MOSSELBAAI NUUS - Pierre Meyer, kaptein van ons voorgeeligaspan, het Saterdag, 21 April op Oubaai sy manne tot 'n naelbytoorwinning teen Pinnacle Point gelei.
Na die oggend se beurtspelle was die Mosselbaaiers kniediep in die moeilikheid met 'n agterstand van drie wedstryde teenoor een. Die span se veggees het Pinnacle Point onverhoeds betrap, want na die middag se enkelspel het Mosselbaai koning gekraai met 6.5 wedstryde teenoor Pinnacle Point se 5.5 wedstryde. Wel gedaan manne, ons is trots op julle.
Global Golf
Global Golf se maandelikse geborgde dag het weer eens aan al die verwagtinge voldoen. In die A-afdeling van die houespel het Pierre Meyer (voorgee 7) 'n bruto-telling van 71 houe aangeteken en duidelik sy kleim afgesteek. Die B-afdeling is deur Jannie Lourens (voorgee 14) op 82 houe gewen.
Die 78-jarige Robert Strydom (voorgee 23) se 94 houe het sy teenstanders in die C-afdeling heeltemal oorrompel. Goeie netto-tellings is deur die volgende spelers aangeteken: C Kaptein (64 houe), Jean Borchardt (66 houe), K Muller (67 houe), K Snyman (67 houe) en M Rehr (68 houe). Baie dankie aan Arrie van der Linde en Global Golf vir hulle getroue borgskap.
Saterdag
Saterdag, 21 April het 150 spelers aan die individuele stableford-kompetisie deelgeneem.Thys Greyvenstein (voorgee 10) was behoorlik op sy stukke en op 42 punte was hy die wenner in die A-afdeling. In die B-afdeling het Bart Saayman 'n briljante 43 punte aangeteken en die C-afdeling is deur die immergroen, veglustige Gert Pieterse op 42 punte ingepalm. Ander verdienstelike tellings is deur G Pool (42 punte), A Zietsman en G Gagiano (40 punte, D Koen en S Hermanus (39 punte), asook K Otto en W Pretorius (38 punte) aangeteken.
Kampioen van kampioene
Ses spelers het ook Saterdag gekwalifiseer vir die finale ronde van die kampioen van kampioene wat later vanjaar afgehandel sal word. Hulle is: Thys Greyvenstein, Gert Pieterse, André Zeelie, Gerhard Pool, Nico Pienaar, JJ Joubert en Hennie Botha.
Op Dinsdag, 1 Mei vind ons jaarlikse Sanlam Kankerdag plaas. Dit is 'n verdienstelike saak so maak vroegtydig seker van jou inskrywing.
'Ons bring jou die nuutste Mosselbaai, Tuinroete nuus'