MOSSELBAAI NUUS - Die tweede ronde van die kampioen van kampioene-stryd het op Saterdag, 20 Januarie plaasgevind.
Twee-en-sewentig van ons lede het om die ses plekke meegeding wat hulle laat kwalifiseer het vir die finale ronde wat in Julie 2018 sal plaasvind.
Kwalifiseerders vir hierdie toernooi was Jean Borchardt, Louwtjie Louw, Gert Pieterse, Aden van Aswegen, Barry Vermeulen en André Zeelie.
Daar bly nog twee uitdun-rondes oor en al ons lede het nog geleentheid om die finale groep te maak.
Woensdag
Hendrik Kriek wat deesdae vuurwarm is, het Woensdag, 17 Januarie saam met sy maat Jason Scheepers, sy teenstanders behoorlik stil gespeel deur die beterbal houespel op 'n onaanvegbare 55 houe in te palm.
Moedige pogings is deur Danie Lamprecht en Jan Joubert, Ertjies Malherbe en Dean Bouwer, asook Pat Good en Wayne Mitchell gelewer, maar hulle 60 houe het aan hulle onderskeidelik die tweede, derde en vierde plekke besorg.
Klubkaptein Wiekus Pretorius en Jan Gelderman se 61 houe het hulle ook prystafel toe laat stap.
Saterdag
Saterdag, 20 Januarie het digte mis speeltoestande baie moeilik gemaak en 'n hele klomp spelers het tou opgegooi.
Jean Borchardt (voorgee 8) het hom nie veel aan die toestande gesteur nie en wen die A-afdeling van die individuele stableford-kompetisie op 43 punte op 'n drafstap.
Calvin Ascencao (voorgee 18) se 42 punte het gesorg dat hy koning kraai in die B-afdeling.
Nuweling Tyron John (voorgee 28) het op 39 punte die louere in die C-afdeling ingepalm.
Oud-stryder Barry Vermeulen (voorgee 12) het op 38 punte die vierde plek ingeneem.
A Percival, N Pienaar, T Kasselman en B Power, almal op 37 punte, het ook nie met leë hande huis toe gegaan nie.
Voornemende ligaspelers word versoek om hulle name op die ligalys op die kennisgewingbord te plaas.
Om deel van Mosselbaai se ligaspanne te wees is nie net 'n eer en 'n voorreg nie, maar bied jou ook die geleentheid om jou vernuf op ons buurbane ten toon te gaan stel.
Ons het 'n trotse ligageskiedenis en deur jouself beskikbaar te stel, kan jy help om hierdie geskiedenis te laat voortleef.
'Ons bring jou die nuutste Mosselbaai, Tuinroete nuus'