MOSSELBAAI NUUS - Dit is verblydend om te sien hoeveel van ons ou swaeltjielede reeds hulle opwagting gemaak het en die vele nuwes wat reeds by ons klub aangesluit het.
Die erge koue en sneeu in Europa maak Suid-Afrika 'n gewilde vakansiebestemming en ons gholfklubs vind baie baat daarby.
Ten spyte van die groot uittog van ons duisende vakansiegangers sien ons daagliks vele nuwe gesigte wat nou hulle vakansie kom geniet. Ons kompetisievelde bars nog steeds uit hulle nate.
Woensdag
Woensdag, 10 Januarie het 176 spelers mekaar die stryd aangesê in die vierbal alliansie kompetisie.
Die dodelike spanwerk van Jacques Budricks (klubkampioen van 2017), Marx de Kock, Tyron John en Louis Botha (100 punte) was eenvoudig net te goed vir die ander mededingers.
Op 96 punte het Ricus Serfontein, Ezra Rheeder, Linchen Wessels en Francois de Lange ook die pap dik aangemaak en gemaklik die tweede plek ingeneem.
Die pa-en-seun-kombinasie van Anton (snr) en Anton Izaakse (jnr), tesame met die hulp van Pierre Meyer en Stefan van Vuuren, het op 94 punte aan hulle die derde plek besorg.
Saterdag
Heerlike Mosselbaai-weer het Saterdag, 13 Januarie so reg in die kraal van die 166 spelers gepas. Hendrik Kriek (voorgee 9) het die individuele syferplus-kompetisie totaal oorheers. Sy wentelling in die A-afdeling van +9 het hom onaanvegbaar gemaak.
David Wandrag (voorgee 14) het op +6 in die B-afdeling met die louere weggestap. In die C-afdeling het Wikus Schoeman (voorgee 24) ook geen genade aan sy teenstanders betoon nie.
Die heerlike gholfweer het gesorg dat die volgende spelers ook Saterdagaand 'n vuurtjie kon gaan maak: A Percival, M Rehr, D Swanich, T Kasselman, L du Toit, almal +5, asook G Combrinck en K Snyman op +4.
Ligaspelers
Voornemende ligaspelers word versoek om hulle name op die ligalys op die kennisgewingbord te plaas.
Ronde twee van die kampioen van kampioene-stryd vind Saterdag plaas en spelers wat gekwalifiseerhet, moet hulle bes probeer om aan hierdie uitspeelronde deel te neem.
Goeie reën is nou ook broodnodig vir ons gholfbaan, distrik en vele dele van ons land.
Ons vertrou dat goeie reën naby is en dat die wonder van die natuur se ontwaking ons opnuut met dankbaarheid sal vervul.
'Ons bring jou die nuutste Mosselbaai, Tuinroete nuus'