MOSSELBAAI NUUS - Die Mosselbaai-gholfklub se klubkampioenskappe wat op Saterdag, 11 en Sondag, 12 Desember plaasvind, beloof om skitterende gholf daar te stel.
Die vroeë gunsteling is beslis die talentvolle junior, Jordan Duminy wat reeds landwyd respek by sy opponente afgedwing het. Die verdedigende kampioen, Chris van den Berg sal beslis al sy skietgoed moet uithaal om Duminy te tem.
‘n Gevaarlike buiteperd vanjaar is beslis die 35-jarige Hendri Malan wat vanaf ‘n +2 voorgee speel. Aanspraakmakers op die titel is die ervare Ronnie Lourens, asook verlede jaar se naaswenner, jongeling Stiaan Stander.
In die veterane-afdeling (70- jaar en ouer) lyk dit voorlopig of Dawid Gerber, John Blythe-Wood en David Bourhill die groot gunstelinge is om die waardige kroon te verwerf.
Inskrywings sluit Dinsdag, 7 Desember om 18:00.
Woensdag
Die laaste Woensdag van November het weer aan die sakemanne behoort en soos altyd was dit voorwaar ‘n fees. Die gekombineerde beterbal stablefordkompetisie het strawwe mededinging tot gevolg gehad, maar Sakkie Morrison en Wiekus Pretorius het op 77 punte net-net die knoop deurgehak teen Kabous Pretorius en Koos van Niekerk op 76 punte. Die 72 punte van Hannelie Borchardt en Ricus Serfontein was genoeg om die derde plek in te neem.
Saterdag
Die vierbal alliansie-kompetisie Saterdag, 27 November is ietwat ontwrig deur ‘n heerlike reënbui gedurende die nag en vroeë oggendure. Spelers kon eers om 10:30 afslaan.
Bart Saayman se span bestaande uit Noël Domingo, Gavin Reynolds en Gielie Gagiano het hulle puik van hulle taak gekwyt en op 121 punte het hulle die uittel oorleef.
Gordon Engelbrecht, Riaan Schenk, Erick Barkhuizen en André Verwey het op hulle beurt weer die uittel teen Jan Joubert, Gerhard Combrinck, Ben Klindt en Jannie Lewies ook op 121 punte gewen.
‘n Spannende stryd word in die finaal van die winter-uitklopstryd verwag wanneer Sakkie Morrison en Gert Pieterse eersdaags kragte meet.
'Ons bring jou die nuutste Mosselbaai, Tuinroete nuus'