MOSSELBAAI GHOLF-NUUS - Die afgelope week was 'n besondere belewenis vir twee van ons gewaardeerde spelers. Dinsdag, 10 Julie het die altyd vrolike, vriendelike en omgeemens, Dawn Wessels, daarin geslaag om op die vyftiende putjie 'n volmaakte gelukhou te behaal.
Sy het 18 jaar gelede ook hierdie prestasie behaal. Saterdag, 14 Julie het die entoesiastiese, kompeterende Roelof Engelbrecht, ook op die vyftiende putjie, sy eerste kolhou in al die jare wat hy gholfspeel, behaal. Veels geluk aan hierdie twee lojale lede van ons klub.
Woensdag
Die 160 spelers wat Woensdag, 11 Julie in perfekte weersomstandighede aan die beterbal stablefordkompetisie deelgeneem het, het beslis die ontspanning waarna hulle gesmag het terdeë benut. Die pa-en-seun-vennootskap van Hennie en André Botha het net-net daarin geslaag om op 47 punte die louere in te oes.
Dawn Wessels het op Dinsdag, 10 Julie 'n kolhou behaal.
Kort op hulle hakke het Pieter Steenkamp en Adriaan Maarschalk, asook Clive Theys en Gert Pieterse, albei pare op 46 punte, ook hulle stemme dik gemaak. Strydos Stefanus Cronjé en Carlos Pinto se 45 punte het aan hulle die vierde plek besorg. Solly Rautenbach en Philip Claase, asook Danie le Roux en Chris van den Berg (44 punte), kon ook Kevin Anderson se oorwinning oor Roger Federer met 'n heerlike braaipak gaan vier.
Saterdag
Die gewilde vierbalalliansie-kompetisie wat Saterdag, 14 Julie plaasgevind het, het beslis die middagveld bevoordeel. Die vierbal van Roelof Engelbrecht (kolhoufaam), André Middel, Wikus Schoeman en Danie van Zyl het skitterende gholf gespeel en wen die kompetisie op 104 punte. Paul Brits (President), Wiekus Pretorius (klubkaptein), Annette Pretorius en Michael Malan, het 'n moedige stryd gevoer en op 96 punte het hulle die tweede plek behaal.
Wenners van Woensdag, 11 Julie se kompetisie: C Theys, A Botha, A Middel, G Pieterse en H Botha.
Met die dae wat stadig maar seker begin langer word, het die tyd aangebreek dat die gholfstokke wat 'n winterrustyd gehad het, afgestof word.
'Ons bring jou die nuutste Mosselbaai, Tuinroete nuus'