MOSSELBAAI GHOLFNUUS - Bounty Wildsverwerking het soos gewoonlik ‘n groot klomp entoesiastiese spelers na die Mosselbaai-gholfbaan toe gelok.
Woensdag, 7 Julie het die spelers mekaar die stryd aangesê in die individuele stablefordkompetisie.
Goeie tellings was aan die orde van die dag en Kobus Potgieter het met 40 punte die wa veilig deur die drif getrek en word hy as Bounty se wenner van die dag gekroon.
Hilton Duminy en Thys Pelser was in ‘n verbete tweestryd gewikkel en op 39 punte het die valbyl beslis dat Hilton die naaswenner sou wees. Thys het die derde plek ingeneem.
Die uittelproses moes ook op 38 punte gebruik word om die vierde, vyfde en sesde plekke te bepaal. Danie van Langelaar het sy kop voorgekry om die vierde plek te verower. Pieter Steenkamp en Jan Taljaard was onderskeidelik vyfde en sesde. Michael Kriel en Gavin Reynolds is op 37 punte ook beloon vir hulle goeie spel.
Saterdag
Die manne het hulle tande behoorlik geslyp vir die vierbal alliansiekompetisie wat Saterdag, 10 Julie plaasgevind het.
Spanwerk was ‘n voorvereiste vir hierdie kompetisie en die vierbal van Michael Kriel, Ashwell Cameron, Clive Kaptein en Brown Voster het hier met vlieënde vaandels koning gekraai. Hulle 90 punte het hulle opponente ver agtergelaat.
André du Plessis en sy span bestaande uit Dawid Upton, Koos van Niekerk en Kabous Pretorius het moedig probeer, maar op 86 punte moes hulle tevrede wees met die tweede plek. Chris van den Berg, Pieter Barnard, Shirley Greig en hulle spookmaat het ook 86 punte aangeteken, maar is na die uittel derde geplaas.
Winter-uitklop
Aan die Winter-uitklop front gebeur die dinge nou vinnig. In die enkelspel het Dawie de Beer die hoogaangeskrewe André Middel uitgeskakel. Michael Kriel het ook geen ontsag vir Jonathon Shelver getoon nie en ook sy drome van ‘n kampioenskap aan skerwe laat spat. Hendrik Kriek vorder ook fluks nadat hy met Ricus Serfontein afgereken het.
In die dubbelspel was die ervaring van Wiekus Pretorius en Sakkie Morrison een te veel vir die entoesiastiese span van Werner Lessing en Jacques Human.
'Ons bring jou die nuutste Mosselbaai, Tuinroete nuus'