MOSSELBAAI GHOLFNUUS - Weersomstandighede op Woensdag, 27 Oktober het spel op die Mosselbaai-gholfbaan kortgeknip. Die blaas van die toeter het spelers van die baan gedwing as gevolg van hewige weerligstrale.
Spelers het dus Saterdag, 30 Oktober behoorlik na die baan gestroom.
Saterdag se vierbal alliansiekompetisie het strawwe eise aan die spelers gestel omdat drie van die vier spelers se punte op elke putjie gebruik moes word.
Die klub se 65-jarige klubkampioen van 2020, Chris van den Berg, het sy span puik gelei en op 130 punte het hulle die eerste plek ingeneem. Chris wat met ‘n voorgee van twee spog, het slegs 73 houe nodig gehad om sy ronde te voltooi. André Zeelie, Merwe van Graan en hulle spookmaat het met hulle stewige ondersteuning die wa suksesvol deur die drif getrek. Op 129 punte het Noël Hudson, Wessel Brand, Barry Tooth en George Ferns loshande die naaswenners gewees. Ons ou karperde, Malan Barnard, Geoff Bernhardt, Tony Muller en Theo Adams was die gewilde wenners van die derde plek met 124 punte.
Winter-uitklopkompetisie
Die dubbelspel van die winter-uitklopkompetisie het nou ‘n interessante wending geneem, nadat die hoogaangeskrewe Chris Brits en Dawid Wandrag in die kwarteindronde teen Bernard Liebenberg en Dawid Upton vasgeval het. Francois de Lange en Ricus Serfontein sal hulle nou in die halfeindronde die hoof bied. Michael Kriel en die junior, Kass Muller, is reeds in die finaal.
Klubkampioenskappe
Die Mosselbaai-klubkampioenskappe kom nou vinnig nader. Op Saterdag, 11 en Sondag, 12 Desember vind hierdie prestige-ryke kampioenskappe plaas. Op elke dag word daar slegs 18 putjies gespeel. Spelers ding mee in drie afdelings naamlik: A-Afdeling: voorgee tot 9: B-Afdeling: 10-18 en die C-Afdeling: 19+.
Gedurende hierdie kampioenskappe word daar ook ‘n senior- kampioen
(50 jaar+), asook ‘n veterane-kampioen (70 jaar+) gekroon. Die inskrywingslyste is op die kennisgewingbord. Die vroue-afdeling ding ook op bogenoemde datums mee om te bepaal wie hulle kampioene gaan wees. Ons vertrou dat sommer baie van ons lede hierdie kampioenskappe sal ondersteun.
'Ons bring jou die nuutste Mosselbaai, Tuinroete nuus'