MOSSELBAAI NUUS - Mosselbaai-gholfklub se Ou Mutual-klubkampioenskappe van die komende naweek beloof om groot opwinding en moontlike verrassings vir in te hou.
Nie minder as 96 mans en 32 vroue gaan mekaar die stryd aansê.
Na Maandag se heerlike reën kan deelnemers 'n lowergroen baan te wagte wees met 'n geniepsige ruveld. Ons pragtige setperke sal die spelers se vernuf behoorlik beproef en diegene wat Sondag as kampioene gekroon word, sal ware kampioene wees.
Denzil Kleu Eiendomme se tweede borgdag op Woensdag, 20 Maart het weer eens aan al die verwagtinge voldoen.
Die 152 spelers wat kragte gemeet het, het sterk meegeding om die eerste plek in die individuele stablefordkompetisie.
Die kompeterende, deurwinterde, Fanie van Vuuren, se ervaring en veggees was een te veel vir sy moedige teenstanders. Op 40 punte het hy trots sy eerste prys omhoog gehou. Vic Moll, Gert Pieterse en Colin Brown het op 39 punte geëndig en is na die uittelstelsel onderskeidelik tweede, derde en vierde geplaas.
Chris van den Berg het op 38 punte die vyfde plek ingeneem. Baie dankie Denzil vir jou wonderlike borgskap. Baie dankie ook aan Michael en Amanda Sheppard vir julle vriendelike, professionele optrede teenoor ons lede en besoekers.
Menseregtedag
Menseregtedag op Donderdag, 21 Maart is deur 'n groot aantal lede en besoekers gebruik om op Mosselbaai se mooi baan te ontspan.
Verblydend om te sien is dat baie van ons besoekers uitstekend gevaar het in die individuele stablefordkompetisie.
Die eerste en tweede prys is deur twee besoekers, Jaco Smit (39 punte) en Timothy Kraemer (37 punte) ingeoes. Nog pryswenners op hierdie vakansiedag was: Russel Hendry (37 punte), asook Gerard de Lange, Stephen Powell en Gerhard Fourie, almal op 36 punte. Selfs Hans Ranke op 33 punte het ook nog in die heerlike vleispryse gedeel.
Saterdag
Saterdag, 23 Maart het Augusta Grill Patisserie van George ons individuele stablefordkompetisie geborg. Talvin Schultz was die man van die dag deur op 44 punte die oorhand te kry.
Albie Ellman het hard in sy nek geblaas en op 43 punte was die tweede plek hom beskore. Gabriël Smith (41 punte) het ook sy stempel afgedruk en die derde plek ingeneem.
Jackie Braisher (37 punte) het die vroue-afdeling gewen. Op 36 punte het Jackie Geldart en Annette Pretorius onderskeidelik tweede en derde geëindig.
Vreugde en 'n genotvolle skoolvakansie word almal toegewens.
'Ons bring jou die nuutste Mosselbaai, Tuinroete nuus'