MOSSELBAAI NUUS - Die Anglikaanse kerk, Holy Nativity het op Sondag, 23 Julie haar jaarlikse gholfdag aangebied. Altesaam 39 spelers van regoor die Suid-Kaap het in perfekte weer op die Mosselbaai-gholfbaan afgeslaan.
Onder die spelers was daar ervare gholfers, beginners en juniors. Die wenner van die seniors was A Evertse en die naaswenner was K Muller. Kass Muller het koning gekraai onder die juniors. Baie van die senior spelers is lugtig om teen Kass te speel en hulle is dit eens dat hy nog die Suid-Afrikaanse gholfbane aan die brand gaan speel.
Jayed Rhodes het 'n prys as die beste beginner gholfspeler ontvang. Die rektor van die kerk vader Peter Rhodes het in sy bedankings genoem dat die dag baie beter ondersteun was as die voriges.
Die komitee, onder leiding van James Ohlson en Gaynor Domingo, bedank die ondersteuners en borge vir hul onderskeie bydraes.
Die kerk, wat vanjaar hul dertigste bestaansjaar vier, bied vanaand, Vrydag 28 Julie 'n Trip around the world aan teen slegs R50. Tydens die funksie gaan daar tradisionele disse van verskillende lande voorgesit word.
James Ohlson, Winston Noble en Jayed Rhodes maak gereed om af te slaan by Nativity Kerk se gholfdag.
'Ons bring jou die nuutste Mosselbaai, Tuinroete nuus'