MOSSELBAAI NUUS - 'n Totaal van 24 finaliste het mekaar op Saterdag, 19 Augustus die stryd aangesê in die kampioen van kampioene-toernooi. Hierdie toernooi het op 1 Julie 2016 afgeskop.
Na elke drie maande het spelers gekwalifiseer om na die eindronde deur te dring. Na 'n titaniese stryd was Charl de Villiers en Barry Vermeulen op 41 punte in die individuele stableford-kompetisie kop aan kop gewees.
Die uittel-stelsel het ingetree en Charl het die wa deur die drif getrek om sodoende as 2016/2017 se kampioen van kampioene gekroon te word. Barry Vermeulen het as waardige teenstander die trofee as naaswenner ontvang. Hennie Klopper (40 punte) se bestendige spel deur die jaar het hom in die derde plek geplaas.
Saterdag
Die gewone Saterdagkompetisie is in afdelings beslis. In die A-afdeling (voorgee 0-13) het Derek van Heerden tekens van sy ou vernuf getoon en op 39 punte het hy koning gekraai. Kampioen Charl de Villiers het die B-afdeling (voorgee 14-22) op 41 punte gewen. Op 77-jarige ouderdom het Robert Strydom sommer 'n hele paar jong manne lelik op hulle neuse laat kyk deur die C-afdeling (voorgee 23+) op 39 punte in te oes.
Die volgende spelers se punte was ook nog goed genoeg om heerlike vleispakke huis toe te neem: Barry Vermeulen (41 punte), Danie van Zyl en
Hennie Klopper, albei op 40 punte.
Winter-uitklop
Die Winter-uitklopkompetisies vorder fluks. In die dubbelspel het die volgende spelers reeds die laaste agt bereik: F Jonck/A Steenkamp, C Barnard/D Gerber, J van den Berg/F Minnaar, N Jacobs/P Barnard, asook S Seconds/G James.
Die individuele uitklopkompetisie het reeds 'n paar verrassings gelewer . Die knaende, vasberade Gert Pieterse het reeds vir hom 'n plek in die kwarteindronde bespreek. M Hugo, D Smith en F Minnaar is reeds in die laaste agt. 'n Opwindende einde word in die vooruitsig gestel. Die Top 16 spelers van ons klubkampioenskappe se uitkloptrekking is ook op die kennisgewingbord en spelers word versoek om hulle verpligtinge betyds na te kom.
Die heerlike, deurdringende reën wat verlede week die dorstige aarde gevoed het, sal verseker dat die naderende lente met volle kleur en geur sal aanbreek. Die gholfbaan met sy springbokkies, grysbokkies, tarentale, fisante en vele ander kleiner diertjies straal reeds nuwe lewe uit.
'Ons bring jou die nuutste Mosselbaai, Tuinroete nuus'