MOSSELBAAI NUUS - 'n Nuwe borg het op Woensdag, 20 Februarie deel van ons klub se borge geword.
Denzil Kleu Eiendomme met Denzil aan die stuur het pragtige pryse beskikbaar gestel vir diegene wat goed presteer het.
Die individuele stablefordkompetisie het 180 spelers gelok en Joe Luggen was behoorlik op sy stukke en teken 42 punte aan wat hom loshande die oorwinnaar gemaak het.
Die altyd bestendige André du Plessis se 40 punte het hom alleen in die tweede plek geplaas. Op 39 punte het die uittelstelsel beslis dat Koos van Niekerk derde is, met Ryk Smit in die vierde plek.
'n Hele klomp spelers het 38 punte aangeteken, maar Francois de Lange het die uittel oorleef en het met die vyfde plek weggestap. Denzil, baie dankie vir 'n suksesvolle eerste borgdag by ons klub.
Saterdag, 23 Februarie, ten spyte van die oordosis rugby-uitsendings, het 195 spelers aangetree vir Global Golf se beterbal houespelkompetisie. Die "berugte", gedugte, vreeslose, vasberade en moedige tweemanskap, Attie van Niekerk en Stephen Terblanche, het weer eens stof in hulle moedige teenstanders se oë geskop deur op 62 houe die wenpaal eerste te bereik. Welgedaan manne.
Twee vroue, Gloria Greyvenstein en Shirley Greig, het moedig probeer om hulle te stuit, maar op 63 houe moes hulle tevrede wees om die tweede plek in te neem. Colin Brown en Gary Brandt (63 houe) en Clive Theys en Talvin Schultz (64 houe) was onderskeidelik derde en vierde. Dankie Arrie vir weer eens 'n puik borgdag.
Winteruitklop
Inskrywingslyste vir die gewilde Winteruitklop-toernooi is reeds op die kennisgewingbord. Skryf in en kry die geleentheid om ook saam met ander lede van ons klub mee te ding en sodoende nuwe vriendskappe te smee.
Klubkampioenskappe
Ons jaarlikse Ou Mutual-klubkampioenskappe vind op Saterdag, 30 Maart en Sondag, 31 Maart plaas. Die kampioenskap vind in drie afdelings (voorgee 0-9, 10-18 en 19+) oor 36 putjies plaas. Agtien putjies Saterdagoggend en die finale 18 putjies Sondagoggend.
Dit is vir ons klub 'n spog geleentheid en ons versoek ons lede om in groot getalle in te skryf. Die inskrywingslyste is op die kennisgewingbord.
'Ons bring jou die nuutste Mosselbaai, Tuinroete nuus'