MOSSELBAAI GHOLF NUUS - Die skote het spreekwoordelik op Woensdag, 3 April behoorlik geklap in Bounty Wildsverwerking se maandelikse borgdag. Die 144 spelers het mekaar die stryd aangesê in die individuele stablefordkompetisie wat in afdelings beslis is.
JJ Joubert het weer sy ou bestendige vorm bereik wat nog altyd van hom 'n gedugte teenstander gemaak het.
Hy teken 38 punte in die A-afdeling (voorgee 0-13) aan en verseker sodoende dat hy as kampioen gekroon word. Manfred du Preez, 'n jong man, gaan steeds van krag tot krag en is dit ook nie 'n verrassing dat hy op 41 punte sy teenstanders in die B-afdeling (voorgee 14-22) in die stof laat byt het nie. Die gewilde, geliefde ou staatmaker, Gert Pieterse, het weer eens gewys dat hy 'n vegter van formaat is en hom nie maklik laat onderkry nie. Sy 38 punte was verreweg genoeg om die C-afdeling (voorgee 23+) in te palm. Bounty Wildsverwerking het verseker dat die volgende spelers ook nog met 'n heerlike braaipak huiswaarts gekeer het: André van Wyk en Hilton Duminy (albei 38 punte), Chris van den Berg en Wessel Brand (albei 37 punte), Pat Good (37 punte) en klubkaptein Wiekus Pretorius (36 punte).
Saterdag
Die beterbal stablefordkompetisie wat op Saterdag, 6 April plaasgevind het, het net 124 spelers laat stokke swaai, nadat 'n klomp Blou Bul-ondersteuners liefs hulle span wou ondersteun, wat blyk nie 'n goeie besluit was nie.
Albie Ellman en Vic Moll het hulle bitter min aan die rugby gesteur en op 49 punte was hulle ligjare voor hulle naaste teenstanders. Die tweede en derde plekke op 46 punte is deur Gary Rule en Jacques Smith, asook klubpresident Paul Brits en Danie Nel ingeneem. Op 45 punte is Koos Snyman en Johan Griesel ook met breë glimlagte huis toe.
'Ons bring jou die nuutste Mosselbaai, Tuinroete nuus'