BOGGOMSBAAI NUUS - Dit is nou al 'n paar jaar dat Jakkalsvlei Wyne se Jantjie Jonker 'n dag by die Boggomsbaai-gholfklub borg.
Ons is baie trots daarop om met Jakkalsvlei geassosieer te word, nie net omdat hulle die toonaangewende wynmakers in hierdie omgewing is nie, maar ook omdat die plaas se ryke geskiedenis so 'n mooi verhaal het om te vertel.
Jantjie se sagte plekkie vir Boggomsbaai-gholfklub kom natuurlik uit jarelange vriendskap met baie boere uit die Boggomsbaai-omgewing.
Baie dankie, Jantjie, vir julle volgehoue ondersteuning aan ons. In die Jakkalsvlei beterbal stablefordkompetisie verlede Saterdag (9 Desember) was daar een paar, Abel Pienaar en Jaco Pienaar (geen familiebande), wat heeltemal onder die ander uitgetroon het.
Abel sê dat Jaco veral op die tweede nege ongelooflike goeie gholf gespeel het en sy rondte met 'n brutotelling van 68 voltooi het.
Jaco is 'n 14-jarige skoolseun op Oakdale-landbouskool en speel van 'n 7 voorgee af.
Vier onder baansyfer is in enige geselskap uitstaande gholf.
Die volledige uitslag was soos volg:
- Abel Pienaar en Jaco Pienaar 51
- Cassie Swanepoel en Malan Cronjé 46
- Willem du Plessis en Chris Feiertag 44
- Tinus Prinsloo en Sakkie Wasserman 44
- Ernest Roux en George Deerans 42
- Hennie en Henk Pienaar 41
- Gerrie Gouws en Johan Muller 41
- André Beukes en Philip Fourie 41
Wenners van die Jakkalsvlei-borgdag.
Die naaste aan die penne is gewen deur Reynold Kahl op 6/15 en Jaco Pienaar op 9/18. Fanie Wessels het die langste sethou op 8/17 ingeset. Johny Potgieter, 'n werknemer van Jakkalsvlei, het die pryse Saterdag kom oorhandig. Baie dankie ook vir jou moeite, Johny.
Saterdag
Eerskomende Saterdag, 16 Desember, borg nog een van ons getroue ondersteuners, Prima Part, 'n beterbalkompetisie op Boggomsbaai.
As jy niks het om te doen nie en lus is vir 'n potjie gholf, kom besoek ons gerus. Kontak net vir André Beukes (082 460 0503), teen Vrydag om in te skryf.
Daar is baie pryse om te wen. Ons laaste borgdag van die jaar is op 23 Desember, die Buffelsdrift Game Lodge IPS-geelbal borgdag.
'Ons bring jou die nuutste Mosselbaai, Tuinroete nuus'