GOLF NEWS - Div de Villiers van Bounty Wildsverwerking het Woensdag, 5 April, weer gesorg dat die 172 spelers ‘n heerlike dag op die Mosselbaai-gholfbaan beleef het.
Die individuele stablefordkompetisie het gesorg vir strawwe kompetisie.
Die lojale en vriendelike Hein Rehr wag nou al lank om sy stempel af te druk en Woensdag het hy met 40 punte die eerste posisie losgespeel.
Maklik was dit egter nie en hy sterk teenstand van Gavin Reynolds en Kobus Terblanche gekry. Hulle moes egter met 38 punte ná die uittel tevrede wees met die tweede en derde posisies onderskeidelik.
Bounty het gesorg dat die drie spelers wat op 37 punte hulle rondtes voltooi het, ook nog in die heerlike vleispryse kon deel.
Wouter Kotzé was die beste daaraan toe in die uittel-proses en het die vierde plek ingeneem. Wessel Brand en Gary Brandt was vyfde en sesde en het hoogs in hulle skik huiswaarts gekeer. Dankie aan Div vir nog ‘n genotvolle dag by die klub.
Saterdag
Dreigende reënweer het Saterdagoggend, 8 April, die spelers in die gesig gestaar. Die dag het egter in perfekte Mosselbaai weer verander en die 164 spelers het die dag terdeë geniet. Gys Wilson en Leon van Schalkwyk het die beterbal houespel met groot entoesiasme aangepak en hulle geesdrif het gesorg dat hulle op 62 houe die eerste plek op die podium kon inneem.
Daar is fel om die tweede plek meegeding. Die pa-en-seun kombinasie van Waldo en Martin Vorster het op 64 houe die uittel-proses suksesvol oorleef en was gewilde naaswenners.
Martin, ons is trots op jou en volg jou opgang in die beroeps-geledere met groot belangstelling. Twee van ons ou karperde, André du Plessis en Bernard Liebenberg (64 houe) was derde met Michal Groenewald en Marcel Mare in die vierde plek.
Die alomteenwoordigende Koos van Niekerk en Philip Smit se 65 houe het aan hulle die vyfde plek besorg.
Lede moet daarop let dat die Winter-uitklop kompetisie se inskrywingsvorms op die amptelike kennisgewingbord aangebring is. Die tyd om in te skryf raak min, want die sluitingsdatum is 30 April.
‘We bring you the latest Garden Route, Hessequa, Karoo news’