MOSSELBAAI NUUS - Houespel is sekerlik die grootste uitdaging vir enige gholfer wat kan lei tot "troelie" geluksalige glorie of "troelie-tragies" ontaard in 'n nimmereindigende nagmerrie.
Dit herinner Jors aan die middeleeuse ridderromans waarin daar gestrewe, gestry en gely is ter verowering van die goue graal. Daarom is dit so gepas dat die oorwinnaars in elke afdeling van die vroue se maandelikse houespelkompetisie deesdae 'n glasgraaltjie verower nogal kompleet met die klubwapen en kompetisie beskrywing daarop.
Maar, anders as die ridders van ouds wat geen matriële vergoeding ontvang het nie, word die hedendaagse vrouewenners en die naaswenners ook nog deur Donovan Hamilton van Mosselbaai Superspar beloon met welkome koopbewyse.
Vandeesmaand se gholfstryd het 36 dapperes gelok, selfs een van Zambië. Dis 'n verrassende groot veld, in ag genome dat die meeste "gholfswaeltjies" reeds vertrek het. Daar was egter minstens twee skaars deelnemers, naamlik Hannelie Borchardt en Irene Schoeman, wie se goeie spel opmerklik was.
Annette Pretorius wat na 'n geruime onderbreking eers onlangs weer tot die stryd getree het, het sekerlik die verpletterendste oorwinning van die dag behaal met 'n volle ses houe onder haar voorgee. Tertia Mitchell het self 'n indrukwekkende slag geslaan met vier houe onder haar voorgee.
Die volledige uitslae van die houespel- en setkompetisie is soos volg:
Silwerafdeling: 1. Annette Pretorius (66 netto-telling), 2. Gail Botha (70) na 'n uittel teen Irene Schoeman en Hannelie Borchardt;
Bronsafdeling: 1. Tertia Mitchell (68), 2. Susan Wright (72), na 'n tuittel teen Jackie Braisher;
Koperafdeling: 1. Cynthia Zietsman (70), 2. Mariaan Hadiaris (72).
Minste sette: Gail Botha; naaste aan die vlag op nommer 8: Marie Smith; spogtweetjies, Tertia Mitchell op nommer 4 en Hannelie Borchard, nommer 8 asook Dawn Wessels op nommer 12. Jors moet tog ook vertel van die asemrowende arend wat Christe Marie Meyer onlangs op nommer 18 behaal het. Dit was 'n allermintige dryf, gevolg deur 'n noukeurige naderhou.
'Ons bring jou die nuutste Mosselbaai, Tuinroete nuus'