MOSSELBAAI NUUS - Die Gloria-trofee is Sondag triomfantelik deur die Mosselbaaise gholfvroue tuisgebring nadat George dit die vorige twee jare gewen het.
Dit was ook nie sommer so 'n hittete oorwinning nie. Ons praat van 'n vermorselende veldslag met 21 punte vir Mosselbaai teenoor George se 10.5. Jors kan wel getuig dat dit van weerskante "troelie" in die welwillendste gees van die spel geskied het.
Die kragmeting vind een keer per jaar plaas tussen 16 spelers van elke klub oor nege putjies elk van beterbal-putjiespel, beurtspel en individuele putjiespel.
Dit word dus oor 'n uitmergelende 27 putjies uitgespook . Dié kompetisie is drie jaar gelede deur Gloria Greyvenstein wat ook die pragtige trofee geskenk het, geïnisieer. Ongelukkig het die trofee vir twee jaar lank die gholfwinkel van die George-klub versier. Dié geniepsige doring het die hele tyd in die Mosselbaaise vlees gesweer.
Juis daarom was die aanloop tot die kragmeting so doelgerig. Eers is daar onderling geoefen en kompeteer om vir die Gloria-trofee span te kwalifiseer. Hierna is die strategie tot in die fynste detail uitgewerk en beproef.
Hoegenaamd niks is aan die toeval oorgelaat nie. Selfs die strydkreet en uitrustings is met sorg onder die loep geneem: Diegene wat nie self gespeel het nie, het die span geesdriftig aangemoedig.
Mosselbaai se triomfantelike Gloria-trofeespan is (agter): Dawn Wessels, Hettie Bruwer, Christe-Marie Meyer, Marie Smith, Jodie Duminy, Gail Botha, Ina Swart (kapt), Goria Greyvenstein, met die Gloria-trofee, Marita Pienaar, Ilze Nel, Ineke Botes, Shirley Pressley en Annemarie Luggen. Voor: Laetitia Higgs, Cynthia Zietsman en Linchen Wessels met gelukbringer.
Tosseldoedie Hanlie de Villiers se kleindogter, Janke van Zyl, het selfs haar geliefde teddiebeer as gelukbringer geskenk. Mosselbaai se vrouekaptein, Magda Kaltenbrunn, het die tafels versier vir 'n oorwinningsfees. Chass Everitt het sommer by voorbaat segesjampanje geskenk en die klub wyn.
Die hoogste voorgeë het eerste afgegaan en hoewel die oorwinning reeds beklink was voordat die laagste voorgeë op nommer 18 gekom het, is hulle nie daaroor ingelig deur hul kamma naelkouende spanlede nie. In die gees van regverdige stres-verspreiding het die topspelers dus ook bloed gesweet tot by die allerlaaste set. Dít het die omstanders gruwelik geniet.
Soos 'n vorige Springbok-afrigter gesê het: " Van wen en verloor, is wen die lekkerste".
Mosselbaai het dit nou uitbundig beleef. Hoewel dit klippe kou sal verg om George op hul tuisveld te klop, gaan daar volgende jaar 'n verbete aanslag wees om die mooie Gloria-trofee in ons klubhuis te hou. (Jors het reeds daai soort praatjies gehoor.)
'Ons bring jou die nuutste Mosselbaai, Tuinroete nuus'