MOSSELBAAI NUUS - Selfs die feit dat Mosselbaai-gholfklub se setperke die hollow time-proses deurloop het, het nie die spelers afgeskrik om te kom speel nie.
Die 156 spelers wat Woensdag, 2 Februarie hulle volle ondersteuning aan Bounty Wildsverwerking se borgdag gegee het, se uitstekende tellings spreek boekdele vir die spelers se entoesiasme.
Die individuele stablefordkompetisie is deur Eugene Duthie, wat nie 'n voet verkeerd gesit het nie, gewen.
Sy skitterende wentelling van 44 punte was onaanvegbaar. Adin van Aswegen (42 punte) en Markie Sciarone (40 punte) het die tweede en derde plekke ingeneem. Bounty Wildsverwerking het gesorg dat die volgende spelers ook beloon is vir hulle goeie spel: A Verwey, R Serfontein, J Havenga, G Wilson (almal 39 punte), asook T Pelser (38 punte).
Saterdag
Saterdag, 5 Februarie het die vierbal alliansiekompetisie vereis dat die drie beste tellings op elke putjie bymekaargetel moes word.
Van ons ou strydosse, Paul Gouws, André Bruwer, Dons de Wet en Sakkie van der Merwe, het aan al die verwagtinge voldoen.
Op 119 punte was hulle die kampioene van die dag. Kort op hulle hakke was André du Plessis, Koos van Niekerk, Bernard Liebenberg en Attie van Niekerk op 118 punte.
Vic Moll, Pine Pienaar, Danie le Roux en hulle spookmaat het ook 118 punte gehad, maar moes die knie buig na die uittel.
'Ons bring jou die nuutste Mosselbaai, Tuinroete nuus'