Video
MOSSELBAAI NUUS EN VIDEO'S - Die Vodacom Origins of Golf toernooi wat die naweek oor 72-putjies by Pinnacle Point in Mosselbaai gespeel word, is een van die grootste gholftoernooie van die Sonskynreeks in Suid-Afrika.
Die pro-Am toernooi wat oor twee dae gespeel word, het Dinsdag 25 Oktober by die Pinnacle Point gholfbaan begin en Woensdag, 26 Oktober, klaargemaak.
Craig Whitson van Franschhoek het 'n droomdebuut beleef toe hy saam met die professionele speler Malcolm Mitchell die finaal gewen het en as Vodacom Origins of Golf se Nasionale Kampioen vir 2022 gekroon is.
Whitson, wat van 'n nege-voorgee speel, het saam met Mitchell 87 punte oor 36-putjies aangeteken. Merrick Bremner en sy amateur-maat, Marco dos Santos, was tweede met 83 punte.
Die toernooi is nou in sy 18de seisoen en is die langste pro-Am reeks van die Sonskyntoer. Vyf toernooie word deur die jaar op verskillende plekke in die land gespeel, waarvan vyf spanne (bestaande uit een Sonskyntoer professionele speler en een uitgenooide amateurspeler) van elke toernooi kwalifiseer om aan die week se finale kompetisie by Pinnacle Point deel te neem.
Die finale kompetisie vir professionele spelers in die Sonskynreeks begin vandag, Donderdag 27 Oktober en duur tot Sondag, 30 Oktober. Altesaam 108 gholfspelers neem deel met 'n totale prysgeld van R1.5 miljoen. Oliver Bekker, 'n plaaslike speler van George is pas terug van die Dubai Ports Wêreldtoer.
Hy is een van Suid-Afrika se nuwe spelers wat oorsee bekendheid verwerf en neem ook deel aan die toernooi by Pinnacle Point.
Van Suid-Afrika se grootste gholfsterre het oor die jare aan die toernooi deelgeneem en gewen. Dit sluit spelers in soos Louis Oosthuizen, Branden Grace, George Coetzee, Dean Burmester, Thriston Lawrence, Hennie Otto, Jean Hugo, Kevin Stone, Darren Fichardt, Justin Harding en James Kingston.
Die direkteur van gholf by Pinnacle Point, Quintin Byleveldt, sê hulle is verheug en trots daarop om die toernooi aan te bied.
"Ons het 'n reputasie vir goed-georganiseerde gholftoernooie, funksies en seminare en met die pragtige natuurskoon óm ons, is die Pinnacle Point gholfbaan ongetwyfeld die beste keuse."
VIDEO - Hennie Otto, een van SA se top gholfspelers en n voormalige wenner van die toernooi, gaan ook in aksie wees dié naweek (Video: Alet Engelbrecht).
VIDEO - Quintin Byleveldt, Direkteur van Gholf by Pinnacle Point, praat oor die voorbereidings vir dié toernooi ( Video: Alet Engelbrecht).
VIDEO - Heinrich Bruiners, professionele gholfspeler van George vertel van sy deelname aan dié toernooi ( Video: Alet Engelbrecht).
Amateur golfer Craig Whitson (left) celebrates with Sunshine Tour professional Malcolm Mitchell after they were crowned the 2022 Vodacom Origins of Golf national champions at the Pinnacle Point Estate. Credit: Perfect Exposure.
Gholfkarretjies staan gereed om die gholfspelers na hul onderskeie punte te neem tydens die Vodacom Origins of Gholf-toernooi.
Heinrich Bruiners (professionele gholfspeler), Michael Vlismas (Vodacom Origins of Golf se woordvoerder) en Schalk Brits (oudSpringbok-rugbyspeler) in 'n vrolike luim voor aflaantyd by die toernooi.
Ignus du Preez en André Potgieter van Mosselbaai, geniet die ontspanne atmosfeer met hul deelname aan die pro-Am Vodacom Origins of Golf-toernooi by Pinnacle Point.
'Ons bring jou die nuutste Mosselbaai, Tuinroete nuus'