MOSSELBAAI GHOLFNUUS - Die vakansiegangers het grootliks al die pad gevat huis toe, maar dit was nogtans 'n stewige klompie plaaslike gholfspelers wat Saterdag, 16 Januarie op Boggomsbaai se gholfbaan kom speel het.
Die stewige suidwester het hard probeer om die dag te ontsier, maar het eintlik net daarin geslaag om die tellings in die individuele stablefordkompetisie ietwat laag te hou. Dit was lekker om een van ons ou staatmakers, George Deerans wat vir 'n baie lang tyd in die sandkuil was as gevolg van 'n siekte, weer op die wennerspodium te sien.
Die volgende spelers het die beste gevaar:
1. George Deerans 38, 2. Chris Feiertag 35, 3. Cassie Swanepoel 35, 4. Marius Loubser 33, 5. Willem van Wyk 33, 6. Bennie Pienaar 33, 7. Philip Fourie 32, 8. Van le Roux 30 en 9. Hannes Mills 30.
Naaste aan die penne is gewen deur Van le Roux op 6/15 en Willem van Wyk 9/18.
In hierdie Covid-tyd waarin ons lewe, hoor ons elke dag hoe besighede noustrop trek en baie mense hul werke verloor, daarom is dit vir die Boggomsbaai-gholfklub 'n riem onder die hart dat nog 'n besigheid tot bestaande borge op sy jaarlikse kalender toegetree het. MBT Electronics het hul eerste tree op Boggomsbaai-gholfbaan gegee.
Beginnersdag
Op 20 Maart bied Boggomsbaai-gholfklub 'n beginnersdag aan. Voornemende spelers, vroue en mans van bestaande spelers of enigiemand wat sommer net in die pret van 'n gholfdag wil kom deel, kan almal kom speel.
Jy word ingedeel saam met 'n gholfspeler en die formaat vir die dag is 'n American Scramble. Pret en ontspanning is die twee hoofkomponente van die dag.
Kontak vir Johan Winterbach (072 483 3770) of André Beukes (082 460 0503) as jy wil kom inskakel.
'Ons bring jou die nuutste Mosselbaai, Tuinroete nuus'