MOSSELBAAI NUUS - Graag wil ons vir Albertyn Sauerman, nuwe baansuperintendent, hartlik verwelkom. Albertyn was die hoof-baanbestuurder by San Lameer aan die Natalse suidkus en het meer as 15 jaar ondervinding in sy beroep. Ons weet dat ons baan met sy vele uitdagings in goeie hande is en vertrou dat ons 'n lang en suksesvolle pad sal saamstap.
Die gewildheid van Mosselbaai-gholfklub en die heerlike weersomstandighede het gesorg dat talle besoekers die afgelope Paasnaweek lustig kom stokke swaai het op ons mooi baan.
Woensdag
Die langnaweek is voorafgegaan met die sakemannedag wat op Woensdag, 28 Maart die spelers baan toe laat stroom het. Die 178 spelers het die pragtige weersomstandighede ten volle gebruik en geniet. Kass Muller, nog een van ons vele talentvolle juniors, het met die hulp van sy maat, Clive Kaptein, die beterbal stableford-kompetisie op 'n skitterende telling van 50 punte gewen.
Die alomteenweerdige Francois de Villiers en Hendrik Kriek het na die uittel op 48 punte tweede geëindig. Die derde en vierde plekke, ook op 48 punte, is deur L Loubser en A van Niekerk, asook D Venter en T Venter, ingepalm. Verlede jaar se klubkampioen, Jacques Budricks en sy maat, M de Kock, het op 47 punte die vyfde plek ingeneem. Baie dankie aan ons groep sakemanne wat al vir baie jare as lojale borg optree.
Saterdag
Saterdag, 31 Maart het 170 spelers die rugby-uitsendings opsy geskuif en die groen skoonvelde van ons baan opgesoek. Die goeie weer het uitstekende tellings tot gevolg gehad en Kelly Muller en Anthony Evertse se 58 houe in die beterbal houespel-kompetisie het aan hulle die wenprys besorg. Twee van ons gewaardeerde besoekers, Ernst en Heinrich Stapelberg, se 59 houe, het gesorg dat hulle Saterdagaand 'n vuurtjie kon aansteek en Bounty Wildsverwerking se heerlike vleis kon geniet.
Drie pare het 61 houe aangeteken, maar na die uittel is Chris Brits (danksy sy goeie kennis van die reëls) en Tielman Breedt derde geplaas. F Jonck en O Mcintyre, asook B Coetzee en F de Villiers is ook nie met leë hande huis toe nie.
Maandag
Maandag, 2 April het Gesinsdag ook gesorg vir 'n vrolike atmosfeer by die klub. Arrie van der Linde was behoorlik op sy stukke en op 41 stableford punte het hy korte mette met sy teenstanders in die A-afdeling gemaak. Frans Smith se 39 punte in die B-afdeling, asook Gert Pieterse (39 punte) in die C-afdeling het hulle as wenners breed laat glimlag. Die volgende spelers het ook in die heerlike vleispryse gedeel: W Lessing en J Vorster (albei 40 punte), asook G Greyvenstein en M Lundie op 39 punte.
Spelers moet ook daarop let dat vanaf 1 April die afslaantye as volg verander: Maandae vanaf 10:00; Dinsdae, Donderdae, Vrydae en Sondae vanaf 08:00; Woensdae en Saterdae vanaf 07:30.
Wenners van die sakemannedag is van links, agter: M de Kock, J Budricks, F de Villiers en H Kriek. Voor: K Muller, Kass Muller, T Venter en D Venter.
'Ons bring jou die nuutste Mosselbaai, Tuinroete nuus'