MOSSELBAAI NUUS - Maart 2022 het gekom en gegaan en die Mosselbaai-gholfklub het 'n suksesvolle tyd beleef. Die aantal rondes wat tydens Maart 2022 gespeel is, beloop 4 891 wat 'n rekord aantal rondes is sedert die statistieke wat vir baie jare gehou word na gekyk word.
Sakemanne-dag op Woensdag, 30 Maart het 168 spelers baan toe gelok en die stokke is lustig geswaai.
Die gekombineerde stablefordkompetisie het goeie spel van beide spelers vereis en Ertjies Malherbe en Francois van Zyl het soos 'n goeie span kombineer en op 80 punte was die wennerspodium hulle beskore.
Ses punte agter hulle (74 punte) het Michal Rehr, klubkaptein, en Wynand Stander die uittelstryd teen Marais Pelser en Hein Rehr gewen.
Die manne op 72 punte het ook nog 'n glinster in die oog gehad, want die vierde en vyfde prys is onderskeidelik aan André Lambrechts en Wiekus Pretorius, asook Markie Sciarone en Colin Buck oorhandig. Welgedaan sakemanne vir weer eens 'n suksesvolle dag.
Saterdag
Saterdag, 2 April was die spelers bevoorreg om in heerlike herfsweer af te slaan. Die vierbal alliansie het vir baie vierballe nie so goed verloop nie, maar die heerlike samesyn en vriendskapsbande wat gesmee is, was meer as genoeg voldoening as die wen van pryse.
Goeie spel is egter deur die span van Ashwell Cameron, Anthony Evertse, Kelly Muller en Dudley du Plessis gelewer. Hulle 94 punte het hulle loshande die louere laat inoes. Vier jongmense het op 89 punte ook hulle stemme dik gemaak.
Jean Borchardt, Ian Pautz, Jodie en Jordan Duminy, het die wenpaal tweede verbygesteek. Len en Johann Strauss, Geber Middel en Clayton Ascencao, het op 88 punte die derde prys ingepalm.
Paretoernooi
Die Windhoek internasionale paretoernooi skop ook Saterdag, 9 April by ons klub af. Altesaam vier kwalifiserende rondes word oor 'n tydperk gespeel. Streekwenners kwalifiseer om in die nasionale toernooi te gaan speel en kwalifiseerders daar gaan in 'n inter-nasionale toernooi meeding. Vir meer inligting kan die klub gekontak word.
'Ons bring jou die nuutste Mosselbaai, Tuinroete nuus'