MOSSELBAAI GHOLFNUUS - Mosselbaai se heerlike weersomstandighede verseker dat die baan dikwels tot oorlopens toe vol is. Woensdag, 9 Junie het 'n totaal van 180 spelers hulle opwagting gemaak om die perfekte omstandighede behoorlik te benut.
Die beterbal houespelkompetisie is deur twee van die Mosselbaai-gholfklub se ou staatmakers, Dawid Gerber en Gerald Glover, op 45 punte gewen.
Die bestendige klubkampioen, Chris van den Berg (voorgee 3) en sy ewe kompeterende maat, André Zeelie, het op 43 punte die uittel teen André van Wyk en Hendrik Kriek gewen en het sodoende as naaswenners geëindig.
Wouter Kotzé en Frankie Brown kon ook die perfekte dag op 'n gesellige noot met 'n braaivleis-vuurtjie gaan afsluit nadat hulle op 42 punte die uittel-proses teen Anton Steenkamp en Oosie Oosthuizen gewen het. Al kon almal nie pryse wen nie, kon daar terug gekyk word op 'n suksesvolle dag wat vreugde aan 'n ieder en elk verskaf het.
Saterdag
Saterdag, 12 Junie, het daar weer eens 'n horde spelers deelgeneem aan die vierbal alliansiekompetisie. Die pa-en-seun-kombinasie van Johan en Danie van Langelaar het met die hulp van Gert Pieterse en André Middel met perfekte spanwerk vorendag gekom en op 89 punte was hulle die onbetwiste kampioene van die dag.
Die vierbal van André du Plessis, Kabous Pretorius, Bernard Liebenberg en Koos van Niekerk het hardnekkige teenstand gebied, maar op 87 punte het hulle as naaswenners uit die stryd getree.
Om die derde plek is daar hard baklei, maar uiteindelik was dit Waldo Vorster, Ricus Serfontein, Francois de Lange en Carlos Pinto wat op 85 punte die wa deur die drif getrek het.
'Ons bring jou die nuutste Mosselbaai, Tuinroete nuus'