MOSSELBAAI GHOLFNUUS - Die gewildheid van gholf word gestaaf deur die feit dat daar wêreldwyd meer as 24 miljoen spelers is.
In Europa het die amptelike aantal gholfklubs vanaf 3 000 in 1985 tot bykans 7 000 in 2018 vermeerder.
In Suid-Afrika het ons 450 gholfklubs (125 000 spelers).
Die Verenigde State spog met 43% van die wêreldtotaal met die gemiddelde ouderdom van spelers wat op 54 jaar te staan kom. Die oudste klub in ons land is die Royal Cape Gholfklub (1885) wat in die skadu's van Tafelberg geleë is. Mosselbaai-gholfklub wat in 1905 tot stand gekom het, word ook gereken as een van die oudste gholfklubs in die land.
Woensdag
Woensdag, 10 Februarie het 146 spelers mekaar die stryd aangesê in die individuele stablefordkompetisie. Van meet af het die spelers die heerlike weersomstandighede benut en goeie tellings is aangeteken.
Sean Klingsick en Paul Brits het die pap dik aangemaak en op 41 punte het die uittelproses beslis dat Sean as oorwinnaar uit die stryd sou tree. Oud-president en -kaptein, Paul Brits het as waardige naaswenner uit die stryd getree. Wynand Stander, wêreldbekende joggie van Louis Oosthuizen het op 40 punte die derde plek ingeneem. Die volgende verdienstelike tellings is deur J Lourens (40 punte), G Brandt, M Rehr, C Barnard en J Collins, almal op 39 punte, aangeteken.
Saterdag
Die gewilde vierbal alliansie spankompetisie wat op Saterdag, 13 Februarie plaasgevind het, het goeie spanspel genoop. Onder die besielende leierskap van Gert Pieterse het sy spanmaats by name van André du Plessis, Koos van Niekerk en Dawid Upton hulle mededingers verslae laat staan met 'n pragtotaal van 111 punte. Die altyd mededingende Clive Kaptein en sy spanmaats bestaande uit Brown Voster, Michael Kriel en 'n spookmaat, het tot die bitter einde sterk weerstand gebied en met hulle totaal op 109 punte het hulle die tweede plek ingeneem. Derde was Nick Botha, Hendrik Botha, Juan Treurnicht en Toks Mynhardt op 107 punte.
Winter-uitklopkampioenskap
Die inskrywingslyste vir ons winter-uitklopkampioenskap is op die kennisgewingbord en raak nou vinnig vol. Ons wil graag hierdie jaar soveel as moontlik spelers by hierdie uitklopkampioenskappe betrek. Skryf in en moontlik kan jy jou naam verewig op ons tradisieryke borde van kampioene.
'Ons bring jou die nuutste Mosselbaai, Tuinroete nuus'