MOSSELBAAI GHOLFNUSU - So dikwels word gholf geassosieer met mans wat klub toe gaan, gholfspeel en baie tyd by die 19de putjie spandeer.
By Mosselbaai-gholfklub is dit beslis nie altyd die geval nie, want hier het ons 112 gesinne waarvan twee of meer van die gesin kosbare gesins- en familietyd saam beleef.
Die lowergroen baan, heerlike restaurant en die mooiste uitsig denkbaar is soos manna uit die hemel vir gesinne wat kwaliteit tyd saam wil spandeer. Selfs al speel jy nie gholf nie, is dit miskien 'n goeie plan om af en toe saam met man- vrou- of kindlief die paradyswêreld van Mosselbaai-gholfklub te kom beleef.
Woensdag
Woensdag, 9 Mei het die spelers mekaar die stryd aangesê in die beterbal stablefordkompetisie. Die pa-en-seun-kombinasie van Fanie en Stefan van Vuuren was een te veel vir hulle moedige teenstanders en op 47 punte was hulle die wenners van die dag. André van Wyk en Heinrich Matthee, ook 47 punte, moes egter na die uittel met die tweede plek tevrede wees. Die volgende spelers het ook nog in die heerlike vleispryse gedeel: B Badenhorst en C Langenhoven, asook P Oosthuizen en N Pienaar (46 punte). M Rehr en E Scheepers (45 punte) is ook tevrede huis toe.
Saterdag
Saterdag, 12 Mei se belangrike rugbywedstryde het beslis ook sy tol by die gholfklub geëis. Slegs 122 spelers het hulle die pyn en lyding van die Stormers gespaar en wyslik besluit om liefs te kom gholfspeel. Die gewilde vierbal alliansie kompetisie is deur Nick Weideman, Wayne Mitchell, Danie le Roux en hulle spookmaat op 95 punte gewen. Kort op hulle hakke was A van Aswegen, E Duthie, T Teichert en N Mostert op 94 punte. Nog 'n gesinspan onder leiding van klubkaptein Wiekus Pretorius, het met die hulp van sy vrou, Annette en skoonseun Mike Malan, asook Jonathon Shelver op 93 punte derde geëindig.
Twee van ons ligaspanne meet Saterdag op Kingswood kragte teen die gedugte spanne van Fancourt. Sterkte manne en hou Mosselbaai se naam hoog.
Woensdag se wenners is van links, agter: P Oosthuizen, M Rehr, C Spies, B Badenhorst, H Matthee en S van Vuuren. Voor: N Pienaar, C Langenhoven, A van Wyk, E Scheepers en F van Vuuren.
'Ons bring jou die nuutste Mosselbaai, Tuinroete nuus'