MOSSELBAAI NUUS - Sommige mense was nog nie behoorlik uitgeslaap na die vorige nag se jolyt nie toe die Boggomsbaai-gholfklub hul eerste borgdag van die nuwe jaar afgeskop het.
Julyan Bruyns, 'n gerekende sakeman van Bethlehem in die Vrystaat en jarelange vakansieganger op Boggomsbaai, het sy jaarlikse borgdag by die Boggomsbaai-gholfklub aangebied op die eerste dag van die nuwe jaar.
Heelwat besoekers het gedurende die feestyd op Boggomsbaai kom gholfspeel en baie van hulle was ook gereeld onder die pryswenners op die borgdae. So het 'n vrouespeler van Riversdal dan ook kom stof skop in die plaaslike spelers se oë op Julyan se borgdag.
Ook Tannah Harris, gewese president van SKGU en ook van Boggomsbaai, het kom wys dat die natuurlike talent vir stokkeswaai iets is wat jy nie vir lank kan wegsteek nie.
Na 'n heerlike dag se gholf is die volgende spelers as die pryswenners vn die dag aangewys:
1. Bea van der Linde 40; 2. Tannah Harris 36; 3. Oeloff Badenhorst 36; 4. Johan Kemp 36; 5. John van Rensburg 34; 6. Philip Fourie 34; 7. Ernest Roux 34; 8. Pienie Pienaar 33; 9. Dirk Kotze 33; 10. Chris Feiertag 33.
Die naaste aan die penne is deur Willem van Wyk op 6/15 en Pienie Pienaar op 9/18 gewen.
Wenners van die Mosselbaai Mall-dag: Andries van Schalkwyk, Johan Muller, Philip Fourie (organiseerder), Flaps Winterbach en Tannah Harris.
Mosselbaai Mall
Die Mosselbaai Mall het so 'n paar jaar gelede begin om elke jaar 'n borgdag op Boggomsbaai aan te bied en die dag is besig om een van die groot suksesdae van die plaaslike gholfklub te raak. Dit is alles te danke aan die uitstekende samewerking wat die klub kry van die Mall se uitvoerende bestuurder, Jo-Anne Victor.
Op Saterdag, 8 Januarie het die suidooster behoorlik gewaai en moes die hoë slaners spesiale planne maak om die gholfballe op die skoonveld te hou. In die IPS- kompetisie het die volgende spelers die beste kopgehou en die beste tellings aangeteken:
- Johan Muller 40;
- Andries van Schalkwyk 38;
- Flaps Winterbach 36;
- Tannah Harris 36;
- Wessel Oosthuizen 35;
- Willem du Plessis 35;
- Bennie Pienaar 34;
- Jaco Pienaar 32;
- Jarno Loubser 32;
- John van Rensburg 31.
Naaste aan die penne is deur Pienie Pienaar, Bennie Pienaar en Jaco Pienaar gewen.
Geslote klubkampioenskappe
Môre, Saterdag 15 Januarie, vind die geslote klubkampioenskappe van die Boggomsbaai-gholfklub plaas en op 22 Januarie het die baanbestuurder kans om sy wraak te neem op die spelers wat hom so baie deur die jaar gekritiseer het met sy "green keeper's revenge" dag.
Wenners van Julyan Bruyns se borgdag is van links, Johan Kemp, Julyan Bruyns (borg), Bea van der Linde, Tannah Harris en Oeloff Badenhorst.
'Ons bring jou die nuutste Mosselbaai, Tuinroete nuus'