MOSSELBAAI NUUS - Mosselbaai-gholfklub se winter-uitklop kampioenskap het verlede week vir groot opwinding gesorg. Gert Pieterse se halfeindstryd teen die jeugdige Maurice Bernardo het veral oor die eerste nege putjies skitterende gholf opgelewer.
Maurice het die eerste nege putjies in slegs 34 houe voltooi en ‘n ietwat bekommerde Gert Pieterse was slegs een putjie agter met die draaislag.
Gert se ervaring en deursettingsvermoë was oor die tweede nege putjies een te veel vir Maurice en nog ‘n kampioenskapstitel wink nou sterk vir hom.
Maklik sal dit egter nie wees nie, want sy opponent in die finaal, Sakkie Morrison, se ervaring en vernuf sal beslis vir Gert behoorlik beproef. Sakkie het in sy halfeindstryd met die bestendige Karools Hauptfleisch afgereken. ‘n Smul-lekker eindstryd word in die vooruitsig gestel.
Woensdag
Ricus Serfontein se Run on clouds-gholfdag het 156 spelers op Woensdag, 23 November baan toe gelok. Die individuele stablefordkompetisie is op 40 punte deur Nols Viljoen (voorgee 10) gewen. Eugene Duthie (voorgee 10) op 39 punte was ‘n gewilde naaswenner en dit was lekker om hom weer ‘n slag onder die pryswenners te sien.
Op 38 punte moes die uittel-proses in werking tree. Drie spelers, Chris Barnard, Johann Strauss en Uys Keyser het dan ook in die volgorde die oorblywende plekke ingeneem.
Ricus was baie bedagsaam en het ook aan die beste vroue-speler van die dag, Hester de Jager (32 punte), ‘n duursame prys oorhandig. Dankie Ricus vir jou borgskap en jou reuse bydrae wat jy as raadslid van die klub lewer.
Saterdag
Saterdag, 26 November het die 160 deelnemers reeds van vroeg af mekaar die stryd begin aansê. Die beterbal stablefordkompetisie is deur Danie van Langelaar en Gert Pieterse op 46 punte gewen.
Chris van den Berg en André Zeelie het ook hulle staal getoon en na die uittel het hulle op 45 punte die naaswenners gewees.
Oosie Oosthuizen het na sy lekker vakansie by Sun City behoorlik geblom en saam met Anton Steenkamp ook 45 punte opgestapel. Anton was behoorlik op sy stukke en met ‘n bruto-telling van 77 houe (voorgee 13) het hulle gesorg dat die derde plek aan hulle behoort.
Die oorblywende pryswenners was Annette en Wiekus Pretorius (44 punte), asook André Middel en Roelof Engelbrecht (43 punte).
'Ons bring jou die nuutste Mosselbaai, Tuinroete nuus'