MOSSELBAAI GHOLFNUUS - Gert Pieterse het weer eens sy staal in ‘n spannende enkelspel-eindronde van die winter-uitklopkompetisie getoon. Sy gedugte teenstander, Sakkie Morrison, het hom behoorlik laat klippe kou, voordat Gert uiteindelik op die derde uitspeel-putjie die knoop kon deurhak.
Dit is die derde keer dat Gert die ontvanger van hierdie gesogte trofee is.
Welgedaan Gert en Sakkie.
Woensdag
Die heerlike vleispakke van Bounty Wildsverwerking spoor die spelers beslis aan om hulle allerbeste te lewer. Woensdag, 1 Desember was dan ook geen uitsondering nie, want skitterende tellings is aangeteken. Gregory Fenn (voorgee 11) het op ‘n allemintige 45 punte koning gekraai in die individuele stablefordkompetisie.
Die naaswenner was Arie Kade (voorgee 17) met ‘n ewe briljante 44 punte. Die derde plek is deur Kobus Potgieter (voorgee 10) ingeneem. Nog was dit nie die einde van die gesogte vleispryse en goeie tellings nie. Drie van ons mees lojale lede, Waldo Vorster, Dawie de Beer en JJ Joubert het op 42 punte ook die rooi tapyt betree. Die sewende en agste prys is onderskeidelik op 41 punte deur Roelof Engelbrecht en Jano van Wyk opgeraap.
Saterdag
Saterdag, 4 Desember het 172 spelers aan die vierbal alliansiekompetisie deelgeneem. Drie van die vier spelers se punte moes op elke putjie gebruik word. Carlos Pinto het sy spannetjie, bestaande uit R Serfontein, Stefanus Cronje en Arno von Mansberg voorwaar flink gelei en op 134 punte was hulle gewilde wenners. Gert Pieterse het met die hulp van Gerhard Buys, Izak Coetzee en Catarina du Plessis sy segetog voortgesit en op 126 punte was hulle die naaswenners. Die pa en seun kombinasie van Johann en Danie van Langelaar, Roelof Engelbrecht en André Middel het op 125 punte die derde plek ingeneem.
Klubkampioenskappe
Die Ou Mutual Mosselbaai-klubkampioenskappe wat op Saterdag, 11 en Sondag, 12 Desember plaasvind, het ‘n vol veld gelok. Sterkte aan al die deelnemers en mag ons trakteer word op skitterende gholf.
'Ons bring jou die nuutste Mosselbaai, Tuinroete nuus'