MOSSELBAAI GHOLFNUUS - Die laaste Woensdag van Januarie het soos gebruiklik aan die sakemanne behoort.
Die 148 spelers het in goeie gees by die klub opgedaag en was gereed om mekaar behoorlik opdraand te gee. Die gekombineerde stablefordkompetisie het vereis dat albei spelers hulle allerbeste moes lewer.
Roelof Engelbrecht en André Middel, wat lank gevat het om van die Covid-19-pandemie te herstel, het hulle staal gewys en op 78 punte was hulle waardige wenners.
Klubkaptein Michal Rehr en Meyer Bosman het op 75 houe as gewilde naaswenners uit die stryd getree. Gary Brandt en Johan Burger het ook die 70-kerf verby gesteek en met 72 houe het hulle die derde plek ingeneem.
Die sakemanne het ook gesorg dat die volgende spelers nie met leë hande huis toe is nie: Tjoepie Pretorius en Nols Viljoen, asook Jarno Loubser en Johan van der Berg, albei pare op 69 houe. Pa-en-seun-kombinasie van Johan en Danie van Langelaar het ook hulle stemme dik gemaak en op 66 houe het hulle met die sesde prys huiswaarts gekeer.
Saterdag
Saterdag, 29 Januarie het die spelers heerlike Mosselbaaise weer beleef. Die vroue, Gloria Greyvenstein en Gail Botha was behoorlik op hulle stukke en die beterbal houespel het so reg in hulle kraal gepas. Op 61 houe het hulle die louere ingeoes. Die tweede plek is deur Johan Burger en Hendri Malan op 63 houe ingepalm. Die oorblywende pryswenners was C van den Berg en T Muller, L Louw en A van Niekerk, albei pare op 64 houe. Michael Kriel en Gavin Reynolds het die vyfde prys op 65 houe verower het.
Volmaakte gelukhou
Veels geluk ook aan Gavin Reynolds wat op Saterdag, 22 Januarie in digte mis op die moeilike twaalfde putjie ‘n volmaakte gelukhou behaal het. Wat die hou so merkwaardig maak, is dat die spelers die setperk glad nie van die bof af kon sien nie.
'Ons bring jou die nuutste Mosselbaai, Tuinroete nuus'