MOSSELBAAI GOLFNUUS - Die ware lushof wat die Mosselbaai-gholfklub se baan tans vertoon, verseker dat elke speler ten volle genot kan put uit dit wat hy/sy ervaar.
Die skitterende tellings wat in ons kompetisies aangeteken word getuig dat die baan nie net alleen verbruikers-vriendelik is nie, maar ook goeie spel ten volle beloon.
Woensdag, 9 Desember se individuele stablefordkompetisie het bogenoemde gestaaf deurdat ‘n groot aantal spelers beter as hulle berekende voorgeë presteer het.
Ertjies Malherbe se uitmuntende 44 punte het aan hom die eerste prys besorg. Kort op sy hakke het Kobus Potgieter op 43 punte in sy nek geblaas. Ons jarelange vriend en buitelid, Joos van den Heever, het op 42 punte die uittel teen Uys Keyser gewen. Pieter Steenkamp (41 punte), Dean Bouwer (41 punte), asook Clive Kaptein (40 punte) en Gerhard Pool (39 punte) het ook nog heerlike braaipakke huis toe geneem.
Saterdag, 12 Desember het 162 spelers hulle huislike pligte opsy geskuif om saam met vriende en kennisse kwaliteit-tyd te bestee. Die beterbal stableford kompetisie het strawwe mededinging tot gevolg gehad met weereens hemelhoë tellings.
Michael Kriel het sy gewone, bestendige spel gehandhaaf en saam met sy maat, Brown Voster, ‘n onaanvegbare 51 punte opgestapel. ‘n Moedige Barend Kotzé en Piers Hitchner se 50 punte het hulle waardige naaswenners gemaak. Raadslid Gordon Engelbrecht en Danie van Zyl het op 49 punte ook behoorlik hulle stemme dik gemaak. Twee van ons veterane, Pat Good en Dave Steward se 47 punte het aan hulle die vierde plek besorg. Die gevreesde Gert Pieterse en Ben Klindt, asook André du Plessis en Dawid Upton se 46 punte het ook gesorg dat hulle die prystafel kon besoek.
"Die strenger maatreëls ten opsigte van die Covid-19-pandemie word met groot erns bejeën. Mosselbaai-gholfklub doen ook alles in hulle vermoë om by te dra tot die veiligheid van elke lid en besoeker wat van ons fasiliteite gebruik maak.
"Hartlik welkom aan ons besoekers wat van heinde en verre kom. Ten spyte van al die beperkings wens ons u ‘n genotvolle feesseisoen toe."
'Ons bring jou die nuutste Mosselbaai, Tuinroete nuus'