MOSSELBAAI NUUS - Die metamorfose wat Mosselbaai gedurende Desember ondergaan is al so deel van ons dorp se gewildheid dat almal elke jaar na hierdie tyd uitsien.
Besighede, sportklubs en ontspanningsinstansies verwelkom dus met ope arms die duisende besoekers.
Mosselbaai-gholfklub is elke jaar verheug om besoekers te ontvang en hulle met ons gasvryheid te oorweldig.
Bounty Wildsverwerking het op 6 Desember die feesseisoen op 'n hoë noot ingelui met hulle geborgde gholfdag.
Donny Smith (voorgee 4) en tweemalige senior kampioen van ons klub, het sy gewone, bestendige, goeie spel gehandhaaf en op 39 punte kraai hy koning in die A-afdeling van die individuele stableford kompetisie.
Die tagtigjarige Stefanus Cronjé wat met gemak nog op 'n voorgee van 15 sy teenstanders harde bene laat kou, het op 37 punte as oorwinnaar in die B-afdeling geseëvier.
Dean Bouwer, musikant van formaat en landwyd bekend vir sy towervingers op die kitaar het gewys dat hy ook die stokke vernuftig kan swaai deur op 37 punte baas van die C-afdeling te word.
Gert Pieterse se vegtersinstink ken geen perke nie en so het hy al menige teenstander in die stof laat byt.
Sy 36 punte het hom na die uittel in die vierde plek geplaas met Noël Hudson (36 punte) in die vyfde plek.
Die volgende spelers het ook die prystafel besoek op 35 punte: L Louw, N Weideman, J Zietsman en A Izaakse (jnr). Hartlike dank aan Divvie van Bounty Wildsverwerking vir sy ruim bydrae.
Saterdag
Saterdag, 9 Desember het 164 entoesiastiese, vasberade spelers opgedaag om deel te wees van die gewilde vierbal alliansie-kompetisie.
Die gedugte span van Dicky Swanich, Danie van Zyl, Eric Barkhuizen en André Verwey het alle teenstand uit hulle pad gevee en op 101 punte het hulle al die pad wenpaal toe geglimlag.
Die oud-stryders by name Paul Gouws, Robert Strydom, Dons de Wet en Danie Venter het nie sonder slag of stoot gaan lê nie en na die uittel het hulle die tweede plek ingeneem op 98 punte.
Stephen le Roux wat weer vinnig besig is om sy beste vorm te herwin, het saam met Riaan Schenk, Hein Rehr en Dean Bouwer op 98 punte derde geëindig.
Wenners van die Bounty Wildsverwerking-gholfdag.
Met die Desembervakansie byna in volle swang, moet lede en besoekers daarop let dat vroegtydige besprekings vir afslaantye absoluut noodsaaklik is.
Ons sien met groot afwagting uit na die magdom besoekers wat van ons klubgeriewe en mooi baan gebruik gaan maak.
'Ons bring jou die nuutste Mosselbaai, Tuinroete nuus'