MOSSELBAAI NUUS - Triestige, koue, nat winterweer het Woensdag, 27 Junie spelers tweekeer laat dink voordat hulle dit op die baan gewaag het. 'n Klompie moediges het vir die oggendveld ingeskryf, maar sommer gou-gou het die meeste druipstert en papnat die warmte van die klubhuis kom opsoek. Dit wou lyk asof die sakemannedag afgestel sou word, maar 77 entoesiastiese spelers het vir die middagveld opgedaag.
Erick Barkhuizen en Heinrich Matthee het die omstandighede goed hanteer en op 46 stablefordpunte was hulle die wenners van die beterbal stablefordkompetisie. Roelof Combrinck en Marco de Kock se 43 punte het hulle na die uittel in die tweede plek geplaas. Twee van die oggendspelers, Les de Jager en Werner Bekker was derde.
Saterdag
Saterdag, 30 Junie het veel aangenamer toestande die 144 spelers te beurt geval. Robbie Botha en Wouter Dercksen het die beterbal houespelkompetisie op 'n 'n uitstekende telling van 59 houe gewen. Kort op hulle hakke was die gesoute, 74-jarige Skippie Scheepers en Gert Pieterse op 60 houe.
Ere-lid, voormalige kaptein, president van ons klub en toer-ghoeroe, Chris Murray, het met die hulp van André van der Merwe ook 60 houe aangeteken, maar is na die uittel derde geplaas. Goeie tellings is ook deur Wiekus en Annette Pretorius, asook Pat Good en Roelof Combrinck (albei pare op 61 houe) behaal.
Winter-uitklopreeks
Die winter-uitklopreeks vorder fluks, maar deelnemers moet asseblief vroegtydig reëlings tref vir hulle uitspeelwedstryde. Die kwalifiseerders vir die laaste ronde vir die kampioen van kampioene-reeks vind op Saterdag, 21 Julie plaas. Ses spelers het nog die geleentheid om vir die finaal van hierdie strawwe kampioenskap te kwalifiseer.
Lede moet ook 'n aantekening maak van 12 en 26 Julie. Die nuwe voorgee-stelsel wat vanaf September 2018 in gebruik geneem word, sal op bogenoemde twee datums bespreek word.
Die inligtingsessies sal deur Rita Herholdt aangebied word en vind om 18:00 in die klubhuis plaas.
'Ons bring jou die nuutste Mosselbaai, Tuinroete nuus'