MOSSELBAAI GHOLFNUUS - Bounty Wildsverwerking se geborgde dag op Woensdag, 6 Februarie het soos in die verlede weer eens 'n horder gholfspelers baan toe gelok. Die individuele stableford kompetisie is in drie afdelings beslis.
Die wenner van die A-afdeling (voorgee 0-13) was een van ons gewilde lede, Erick Barkhuizen, wat 41 punte aangeteken het. Gielie Gagiano het ook weer sy beste vorm bereik en op 38 punte was hy baas in die B-afdeling (voorgee 14-22).
In die C-afdeling (voorgee 23+) was 36 punte genoeg om koning te kraai en Malan Barnard was die speler wat hier die botoon gevoer het.
Die volgende spelers kon ook deel in Bounty se heerlike vleispryse: A Middel (39 punte), J Shelver, N Domingo, G Pool (almal 38 punte). Jordan Duminy (37 punte) en J van den Berg (36 punte) het ook nog gedeel in die pryse. Divvie, jy bly maar 'n ou staatmaker. Baie dankie vir jou borgskap.
Mosselkrakers
Mosselbaai-gholfklub is bevoorreg om 'n groep lede te hê wat bekend is as die Mosselkrakers. Hierdie groep onder die bekwame en entoesiastiese leiding van Bertus Mare floreer en daag elke Dinsdag en Vrydag op om hulle ronde gholf te geniet. Om tussen 70 en 80 spelers op so 'n dag te verwelkom is 'n loutere plesier.
Lede van die Mosselkrakers, B Denyer en E Jenkerson, saam met Bertus Mare die leier van die Mosselkrakers.
Hulle reusebydrae tot die welvaart van die klub kan nie genoeg beklemtoon word nie. Aan Bertus en sy groep wil ons baie dankie sê en die hoop uitspreek dat hulle nog vir baie jare 'n steunpilaar in die klub sal wees.
Saterdag
Die beterbal syferpluskompetisie wat op Saterdag, 9 Februarie plaasgevind het, het 178 spelers baan toe gelok. Een van ons juniors, Wouter Dercksen, het met die hulp van sy maat, Annette Pretorius, 'n skitterende telling van +13 aangeteken.
In die tweede plek het Neilson Mcleod en Danie Oosthuizen op +10 klaar gemaak. Nog goeie tellings is deur W Brand en M Mulder (+10), JJ Joubert en S Hauptfleisch, asook G Gagiano en D Schoeman, T Venter en G Greyvenstein, (almal op +8) aangeteken.
Opgradering aan die klubhuis vorder fluks. Al die ongerief wat ons lede op die oomblik moet verduur, sal beslis die moeite werd wees as die projek voltooi is.
'Ons bring jou die nuutste Mosselbaai, Tuinroete nuus'