MOSSELBAAI GHOLFNUUS - Die derde jaarlikse Oil Green Classic-gholfkompetisie het op 7 Julie by die Boggomsbaai-gholfklub plaasgevind. Ons borg vir die kompetisie, Quality
Cupboards van Mosselbaai, het dit vir die 33 spelers wat kom speel het 'n full spread voorgesit - van 'n natgat by die sesde, 'n ete na die tyd tot pragtige pryse vir die wenners. Alles op die inisiatief van Quality Cupboards se eienaar, Conrad Carelse, 'n man wat met sy geesdriftige meedoen sommer 'n klomp entoesiasme by al die spelers kweek. Baie dankie, Conrad.
Die heerlike atmosfeer wat daar geheers het by die prysuitdeling is 'n bewys van die sukses van die dag. Dankie ook aan jou hele span wat die dag so lekker gemaak het.
Die bestuur van die Boggomsbaai-gholfklub het 'n rukkie gelede besluit om spelers toe te laat om van 'n kunsmatige grasmatjie af te speel.
As gevolg van Boggomsbaai se oneweredige oppervlak en skrapse grasbedekking wat nou hier heers as gevolg van die voortslepende droogte, kan spelers dus nou hul gholfballe op die skoonveld op 'n matjie plaas en daarvandaan speel. Die dag toe die besluit goedgekeur is, het Gawie Maritz, die verkoopsbestuurder van Mosselbaai Toyota, toevallig op Boggomsbaai gespeel en hy kondig toe aan dat hy die matjies sal borg. Baie dankie, Gawie.
Uitslae
Die stryd om die eerste plek in die IPS-kompetisie was groot en die eerste drie het sommer kookwatergholf opgedis.
1. André Goetz (24 voorgee wat 'n rondte van 85 houe gespeel het) 45
2. Leon van Schalkwyk (7 voorgee wat 'n 2 onder baansyfer 70 speel) 44
3. Jaco Pienaar (5 voorgee wat 'n 1 oor baansyfer 73 speel) 39
4. Marius Loubser 39
5. André Beukes 38
6. Cassie Swanepoel 37
7. Hennie Pienaar 36
8. Fanie Wessels 36
Die naaste aan die penne is gewen deur John van Rensburg op 6/15 en Malan Cronjé op 9/18.
Op die laaste Saterdag van die maand het ons weer 'n vleisdag. Kom maak gerus 'n draai by ons en kom geniet die gasvryheid wat die Boggomsbaaiers uitstraal.
'Ons bring jou die nuutste Mosselbaai, Tuinroete nuus'