MOSSELBAAI GHOLFNUUS - Met Desember net om die draai het die heerlike reën van die afgelope week verseker dat ons duisende besoekers by Mosselbaai-gholfklub ‘n lowergroen gholfbaan te wagte kan wees. Die weersiens van ou vriende en selfs besoekers wat vir die eerste keer die klub sal besoek, is beslis iets opwindend waarna almal uitsien.
Denzil Kleu Eiendomme het op Woensdag, 17 November weer hulle gewilde maandelikse borgdag aangebied.
Adin van Aswegen was behoorlik op sy stukke en het in onplesierige weersomstandighede die individuele stableford kompetisie op 39 punte gewen. Maurice Bernardo het nie sommer bes gegee nie en op 38 punte was hy die naaswenner. Die ouer garde by name Barry Tooth, Paul Brits en Brian Power het ook hulle stemme dik gemaak en op 37 punte het hulle die oorblywende pryse ingepalm. Baie dankie aan Denzil Kleu Eiendomme vir hulle getroue en lojale ondersteuning aan die gholfklub.
Saterdag
Saterdag, 20 November het moeder-natuur gesorg dat die geniepsige windjie wat die middagveld getref het, verseker dat die wenners uit die oggendveld sou kom. Chris Brits (voorgee 14) en David Wandrag (voorgee 11) het dan ook die oggend se puik weer ten volle tot hulle voordeel aangewend en wen met gemak die beterbal houespel op 61 houe. David teken ‘n prag bruto-telling van 77 houe aan wat die sout nog dieper in hulle teenstanders se wonde gevryf het.
Ligjare agter hulle het Len Strauss en Dawie van Rensburg op 66 houe as naaswenners uit die stryd getree. Johan van der Berg en Thys Pelser het ook 66 houe aangeteken, maar is na die uittel derde geplaas. Die vierde en vyfde plekke is op 68 houe onderskeidelik deur Danie Venter en Gail Botha, asook Barry Tooth en Wessel Brand ingeneem.
Klubkampioenskappe
Die Ou Mutual Mosselbaai klubkampioenskappe kom nou vinnig nader. Op Saterdag, 11 en Sondag, 12 Desember vind hierdie prestige-ryke kampioenskappe plaas. Op elke dag word daar slegs 18 putjies gespeel. Die inskrywingslyste is op die kennisgewingbord.
Die vroue-afdeling ding ook op bogenoemde datums mee om te bepaal wie hulle kampioene gaan wees. Ons vertrou dat sommer baie van ons lede hierdie kampioenskappe sal ondersteun.
'Ons bring jou die nuutste Mosselbaai, Tuinroete nuus'