MOSSELBAAI GHOLFNUUS - Daar is geen twyfel dat mense honger is om weer saam te wees nie.
Op Saterdag, 4 September, moes jy hardop dink om jouself te hoor in die Boggomsbaai-gholfklub.
Mense wat dié gholfklub ken, sal weet dat luidrugtigheid die normale is binne die kroeg, maar as Quality Cupboards van Mosselbaai borg, gaan dit nog 'n paar grade vroliker daar as op ander dae.
Dit het baie te doene met Conrad Carelse en Leonard Snijders, die twee eienaars van borgskap. Hulle bring, saam met hul families, 'n heerlike jovialiteit en entoesiasme met hulle op so 'n dag en dit is beslis aansteeklik, want later praat almal in die klub ewe hard. Baie dankie, manne. Ons het in hierdie triestige tye baie meer sulke dae nodig.
Dit is die vierde keer dat hulle die sogenaamde Winter Oil Green Classic borg. Covid het egter hierdie jaar gesorg dat dit eers in die lente gespeel kon word.
Spelers spook sake uit in 'n individuele stablefordkompetisie en die volgende spelers het die beste gevaar:
1. Flaps Winterbach 41; 2. Hennie Pienaar 36; 3. Pienie Pienaar 35; 4. Gert Opperman 35; 5. Bennie Pienaar 32; 6. Bennie Pieterse 31; 7. Cassie Swanepoel 31 en 8. Jarno Loubser 28.
Die naaste aan die penne is gewen deur Cassie Swanepoel op 6/15 en Jarno Loubser op 9/18. Naaste aan die penne vir twee op 1/10 is gewen deur Flaps Winterbach en op 8/17 deur Bennie Pieterse.
'n Pragtige koek met 'n gholfmotief, gebak deur 'n familielid, Johan, is ook deur die borge geskenk om uitgeloot te word en Linda Carelse het vir al die spelers heerlike kerrie en rys voorgesit.
'Ons bring jou die nuutste Mosselbaai, Tuinroete nuus'