MOSSELBAAI GHOLFNUUS - 'n Totaal van 168 spelers het op Woensdag, 31 Maart opgedaag om aan die maandelikse Sakemannedag deel te neem.
Die gekombineerde stablefordkompetisie het vereis dat albei spelers hulle allerbeste moes lewer.
Die ervare Waldo Vorster en sy ewe entoesiastiese maat, Manny Ascencao, het nie gras onder hulle voete laat groei nie en van meet af die pap dik aangemaak. Hulle 77 punte was genoeg om met die louere weg te loop.
Clive Kaptein en Brown Voster het hulle ook goed van hulle taak gekwyt en op 76 punte was hulle die naaswenners. Twee van die ou strydosse, Pat Good en Wayne Mitchell, het op 74 punte derde geëindig. Martiens Mulder, wat deesdae weer uitmuntende gholf speel, en Johan Buys het op 73 punte die vierde prys voor Johann en Danie van Langelaar weggeraap.
Saterdag
Die 178 spelers wat Saterdag, 3 April aan die beterbal stablefordkompetisie deelgeneem het, het heerlike Mosselbaai weer geniet. Twee besoekers van Port Elizabeth-gholfklub, Frans en Heinrich Stapelberg, het hulle terdeë geniet en op 47 punte het hulle korte mette met hulle teenstanders gemaak. Stephen le Roux en Erick Barkhuizen, asook Gerrie van Deventer en Brian Blignaut het hulle verbete teëgesit, maar op 46 punte moes hulle onderskeidelik met die tweede en derde plek tevrede wees.
Die volgende spelers kon ook die Paasnaweek met 'n vuurtjie gaan vier, G Steinhobel en M Pelser (45 punte), E Franklin en J King (44 punte), asook B Tooth en J Luggen op 44 punte.
Winter-uitklopkompetisie
Die eerste skote het geklap in die Winter-uitklopkompetisie. Die gedugte kombinasie van André van Wyk en Hendrik Kriek is op pad na die volgende rondte nadat hulle met Sean Klingsick en Jaco Groenewald afgereken het. Daar word 'n beroep op spelers gedoen om betyds hulle uitspeel verpligtinge na te kom, aangesien geen uitstel van wedstryde toegelaat word nie.
'Ons bring jou die nuutste Mosselbaai, Tuinroete nuus'