MOSSELBAAI NUUS - Met 160 entoesiastiese spelers in die veld het Nashua se borgdag op Woensdag, 9 Maart gesorg dat die mededinging in die individuele stablefordkompetisie by die Mosselbaai-gholfklub fel was.
Werner Botha, van Nashua, het weer eens gesorg dat die prystafel gelaai was met goeie pryse. ‘n Besoeker uit KwaZulu-Natal, Ritesh Ramjattan, het die manne behoorlik stil gespeel.
Sy 45 punte vanaf 'n 17-voorgee was veels te goed en Elmar Noppe (voorgee 8) se ewe goeie telling van 43 punte het hom die naaswenner gemaak. Die tellings was besonders hoog en op 42 punte het Sean Klingsick die derde plek verower.
Manny Ascencao (41 punte) en Kelly Muller (40 punte) het die vierde en vyfde plekke ingeneem. Soos altyd het ons borg, Nashua, hulle weer uitstekend van hulle taak gekwyt.
Saterdag
Die gekombineerde houespelkompetisie op Saterdag, 12 Maart, het die spelers gedwing om meer konsentrasie en slim besluitneming aan die dag te lê. Eugené Duthie en Rolan Muller was opgewasse vir die taak en oes die louere in met’n telling van 64 houe.
Die man-en-vrou kombinasie van Wiekus en Annette Pretorius het vrugte afgewerp en op 66 houe het hulle die uittel teen drie ander pare gewen.
Erick Barkhuizen en Lambert Roux, Johan Buys en Joe Luggen, asook Wessel Brand en sy spookmaat, het die derde tot vyfde plekke gevul.
Met die sonnetjie wat alreeds vroeër begin wegduik agter die horison, bly daar egter nog genoeg tyd oor om ‘n vinnige 9-putjies na werk te kom speel.
Na die heerlike reëntjie is die baan lower- groen. Die setperke is puik en ons is trots op Gavin Coleman (baanbestuurder) en sy personeel wat hulle werklik goed van hulle taak kwyt.
'Ons bring jou die nuutste Mosselbaai, Tuinroete nuus'