MOSSELBAAI GHOLFNUUS - Heerlike lenteweer het Woensdag, 7 September die dag vir die 148 spelers op die Mosselbaai-gholfbaan aangenaam gemaak.
Bounty Wildsverwerking was soos gewoonlik op hulle pos met heerlike braaipakke as vleispryse. Die individuele Stablefordkompetisie het elke speler op sy eie vermoëns laat staatmaak.
Bernard Liebenberg het van meet af aan die pap dik aangemaak en op 40 punte was hy die gewilde wenner van die dag. Tim Fehrsen, Wouter Kotzé en Waldo Vorster het op 38 punte die uittelproses aan die gang gesit. Tim was suksesvol en is as naaswenner gekroon. Wouter en Waldo was onderskeidelik derde en vierde.
Divvie van Bounty Wildsverwerking het gesorg dat Frans Smith (37 punte), asook Danie van Langelaar, Rob Muller en Francois Swanepoel, almal op 36 punte, ook nog kon deel in die pryse. ‘n Klomp gelukkige en tevrede spelers het die aand huiswaarts gekeer.
Saterdag
Saterdag, 10 September se vierbal-alliansie het goeie samespel vereis. Op 92 punte was Brown Voster, Michael Kriel, Clive Kaptein en hulle spookmaat suksesvol gewees en hulle het met die louere weggestap. Kort op hulle hakke het Attie van Niekerk, Brian Power, Joe Luggen en Martiens Mulder op 90 punte as naaswenners uit die stryd getree. Joan Zietsman se kapteinskap het die manne, André Zeelie, Tony Muller en Chris van den Berg, behoorlik op hulle tone gehou en met 87 punte is die derde plek aan hulle toegeken.
Algemene jaarvergadering
Lede moet nou reeds ‘n aantekening maak dat die klub se algemene jaarvergadering geskeduleer is om op Woensdag, 28 September om 19:00 in die klubhuis plaas te vind.
'Ons bring jou die nuutste Mosselbaai, Tuinroete nuus'