MOSSELBAAI NUUS - Rita Wienand het 'n lang, koesterende skadu oor vele sportvelde, maar veral die Suid-Kaapse gholfbane gegooi. Hoewel haar boom by wyse van spreke verlede Woensdag afgekap is, sal dit nog lank hoog bly staan in die herinneringe van haar mede-gholfers, oud-kollegas en ander vriende.
Rita Elsa Wienand is op 25 Augustus 1940 op Cradock gebore. Sy het haar skoolloopbaan aan die Hoër Meisieskool Rocklands voltooi. Sy bekwaam haar aan die kollege op Graaff Reinet as onderwyseres. Hierna was sy vir 12 jaar lank verbonde aan die Hoërskool Alexander Road in Port Elizabeth.
Sy was vir 18 jaar inspektrise en later ook die hoofinspekteur van liggaamsopvoeding. In hierdie hoedanigheid het sy die land deurkruis. Sy het sowel hokkie as vroue-krieket vir die Oos-Kaap gespeel.
Maar, sy het bowenal as sportadministrateur beïndruk. Sy het die SA meisieskole op die SA vroue-hokkievereniging verteenwoordig en was veral gemoeid met die evaluering van skeidsregters.
Rita was vir drie jaar die kaptein van die Durbanville-gholfklub se vroue-afdeling en het ook gedien op die WP se vroue-komitee. Sedert haar vestiging op Mosselbaai het sy 'n baanbrekersrol in die Suid-Kaapse vrouegholf gespeel.
Sy was vir ses jaar: vanaf 1998 - 2000 en weer vanaf 2004 tot 2006, kaptein van die Mosselbaai-gholfklub se vroue-afdeling. Vanaf 2000 tot 2002 het sy die pos van presidente van die Suid-Kaapse vrouegholfunie beklee. Sy het ook 'n waardevolle bydrae ter bevordering van die Suid-Kaapse senior vrouegholfvereniging gelewer. In 2002 het sy as 'n reëlsbeampte gekwalifiseer. Haar reëlboek was immer byderhand en haar uitleg so regverdig moontlik. Boonop was sy altyd taktvol.
In 2008 word sy die eerste - en tot dusver die enigste - vrouepresident van die Mosselbaai-gholfklub.
Geen wonder nie, dat die huldigingsdiens wat eergister vir haar in die gholfklub gehou is, deur so baie bygewoon is. Sommige van sover as Kaapstad en Port Elizabeth. Eergister het die George-klub tydens hul vroue-opedag ook 'n huldigingseremonie vir Rita gehou.
Op haar beste het Rita van 'n 11-voorgee afgeslaan. Sy het tot in 2016 gereeld gholf gespeel. Die afgelope twee jaar het sy geduldig by die klub gewag terwyl haar vriendinne gespeel het. Sy het altyd geglimlag en gesê: "Dit gaan goed, dankie."
"Dit het my herinner aan die dekorum waarmee sy haar verskeie gholfampte vervul het. Jors kan net sê: "Dit is goed om jou te geken het, dankie daarvoor Rita. Vandag het jy 'troelie' opreg-waarderende afskeidsgroete gekry - want jy het dit verdien."
Aan Ina Swart, haar getroue vriendin van 40 jaar: "Ons deel in jou verlies. Sterkte!"
'Ons bring jou die nuutste Mosselbaai, Tuinroete nuus'