MOSSELBAAI NUUS - As jy vir 'n bietjie opwinding op 'n vaal tydjie in jou lewe soek, moet jy op 'n Saterdag die Boggomsbaai-gholfklub besoek.
Nie net bied die baan 'n unieke uitdaging met sy uitsonderlike setperke en onbehoorlike ru-veld nie, maar jy gaan ook 'n ongekende jolige atmosfeer in die klubhuis ervaar.
Op Saterdag, 19 Maart het die Boggomsbaaispelers elkeen 'n maat gebring wat nog nooit 'n lid van 'n gholfklub was nie en met behulp van 'n borg, Tyre and Tread van Mosselbaai, het hulle 'n pretdag aangebied wat alle voriges in die skadu gestel het.
Daar was wenners ook, maar die uitroepe van entoesiasme en kreune van lyding op die baan was die aanduiding dat die dag 'n reuse sukses was. Na die tyd het die braaivleisvuur hoog gebrand en is baie van die houe weer en weer oorgespeel.
En dan het Boggomsbaai-gholfklub ook sy eie sanger wat die mense tot laat vermaak het en heerlik laat dans het. Wat meer wil jy hê?
Die dag se formaat was 'n American Scramble-kompetisie met Stablefordpunte, maar ook met 'n paar kinkels: op die kort putjie 3s moes hulle met 'n drywer afslaan, op een van die langer putjies met 'n linkerhandse 5-yster en op sommige putjies moes die nie-gholfer se afslaan gebruik word.
Die pare moes ook op die voorgee van die erkende gholfspeler onder die twee se voorgee speel. Die pare het uitsonderlike hoë punte behaal, 'n aanduiding dat die nie-gholfer se bal baie keer getel het.
Die klub het ook besluit om die twee wenners onder die nie-gholfers met 'n gratis ses en drie maande lidmaatskap van die klub te beloon.
Die drie wenpare was Willem du Plessis en Sheldon Schultz op 54 punte, Bekkies Muller en Chris Booysen op 52 en Bennie Pienaar en Pieter Aucamp op 50.
Die dag sou ook nie gerealiseer het as dit nie vir die baie harde werk van Flaps Winterbach en sy vrou, Elsona, was nie. Flaps het verlede jaar die dag begin organiseer en 32 spelers gekry.
Hierdie jaar was daar 40, waarvan agt vroue was. Hy sê hy wil graag sien dat Boggomsbaai nog een van die dae sy eie vrouegroep gaan kry en sê dat volgende jaar se beginnersdag nog baie groter gaan wees.
'Ons bring jou die nuutste Mosselbaai, Tuinroete nuus'