SPORTNUUS - Die koue en soms reënerige weer gedurende Julie het beslis nie die gholfspelers se gees gedemp en van die baan af gehou nie. ‘n Rekord-aantal rondes (3 865) is gedurende die afgelope maand aangeteken wat byna 200 rondes meer is as verlede jaar die ooreenstemmende tyd.
Die aantal rondes vir die jaar staan reeds op ‘n allemintige 29 652 rondes.
Sakemannedag
Die sakemanne het ouder-gewoonte weer hulle heerlike geborgde dag op Woensdag, 27 Julie aangebied. Die gekombineerde stablefordkompetisie het vereis dat elke speler sy allerbeste moes lewer.
Die egpaar, Steve en Irené Schoeman, het hulle jare-lange samewerking ook op die spel toegepas en die 77 punte wat hulle opgestapel het, was genoeg om as oorwinnaars gekroon te word.
Die pa-en-dogter kombinasie van Hilton en Jodie Duminy het ook vrugte afgewerp en op 75 punte was hulle die naaswenners. Klubkaptein, Michael Rehr het ook vir ‘n wyle al sy pligte opsy geskuif en saam met die talentvolle en opkomende speler, Aldrich Potgieter (bruto 64 houe vanaf ‘n +6 voorgee), die derde plek op 74 punte verower.
Die 85-jarige Stefanus Cronjé en sy maat, Carlos Pinto het die vierde plek op 72 punte verower. Op 71 punte het ook André du Plessis en Kabous Pretorius die prystafel besoek. Dankie Sakemanne vir nog ‘n heuglike dag by die klub.
Saterdag
Die beterbal stablefordkompetisie het Saterdagoggend, 30 Julie, die spelers met yskoue weer begroet. Die dag het pragtig uitgedraai en is deur ‘n groot aantal spelers geniet.
Attilio van Niekerk en Gavin Wales het van meet af die pap dik aangemaak en was die gewilde wenners op 44 punte in die beterbal stablefordkompetisie.
Die tweede tot die vyfde plek moes met behulp van die uitklop-proses bepaal word en Tony Muller en André Zeelie (42 punte) is as naasbestes gekroon.
Die egpaar, Wiekus en Annette Pretorius, het derde geëindig. Die vierde en vyfde plek is onderskeidelik deur Barry Tooth en Wessel Brand, asook Etienne van Zyl en Nick van Noordwyk, ingeneem.
'Ons bring jou die nuutste Mosselbaai, Tuinroete nuus'