MOSSELBAAI NUUS - Februarie 2019 het verby gespoed en ten spyte van die droogte is ons baan nog in 'n puik toestand. Die bykans 5 000 rondes gholf wat gedurende
Februarie gespeel is, spreek boekdele vir Albertyn Sauerman en sy baanpersoneel wat soggens douvoordag hulle dagtaak aanpak om die baan so mooi te hou. Dankie julle manne, julle arbeid gaan nie ongesiens verby nie.
Die sakemanne se geborgde dag is soos altyd uitstekend ondersteun en 184 spelers het hulle vernuf ten toon gestel.
André van Wyk en Hendrik Kriek vee deesdae alle teenstand uit hulle pad en op 47 punte het hulle na die uittel koning gekraai. Die volgende spelers het ook 47 punte aangeteken en is onderskeidelik tweede en derde geplaas: Werner Lessing en Konstant Nel, asook Dean Bouwer en Ertjies Malherbe. Joos van den Heever en Louis Visser se 45 punte het aan hulle die vierde plek besorg. Die volgende spelers is ook nie met leë hande huis toe nie: Carlos Pinto en Stefanus Cronjé (44 punte), asook Barry Tooth en Lize-Mari Prinsloo (43 punte). Hartlike dank aan al die betrokke sakemanne vir hulle ondersteuning en lojaliteit teenoor die klub.
Saterdag
Die gewilde vierbal alliansiekompetisie wat op Saterdag, 2 Maart plaasgevind het, het 160 spelers baan toe gelok. Spanwerk, aanmoediging en 'n bietjie geluk is wesenlike kenmerke wat van presteerders verwag word. Vier van ons swaeltjie-lede het al bogenoemde kenmerke streng toegepas en op 96 punte was hulle die kampioene van die dag.
André van Wyk, Hendrik Kriek en R Nel het met die hulp van hulle internasionale joggie, Wynand Stander, die pap dik aangemaak en op 95 punte het hulle tweede geëindig. Die ou hande in die klub, Skippie Scheepers, Fanie en Stefan van Vuuren, asook Anton Izaakse, (95 punte) het ook hulle stempel afgedruk en sodoende die derde plek ingeneem.
Winter-uitkloptoernooi
Inskrywingslyste vir die gewilde winter-uitkloptoernooi is reeds op die kennisgewingbord. Skryf in en kry die geleentheid om saam met ander lede van die klub mee te ding en sodoende nuwe vriendskappe te smee.
Die jaarlikse Ou Mutual-klubkampioenskappe vind op Saterdag, 30 Maart en Sondag, 31 Maart plaas. Die kampioenskap vind in drie afdelings (voorgee 0-9, 10-18 en 19+) oor 36 putjies plaas. Agtien putjies Saterdagoggend en die finale 18 putjies Sondagoggend. Dit is vir die klub 'n spoggeleentheid en die lede word versoek om in groot getalle in te skryf. Die inskrywingslyste is op die kennisgewingbord.
Die sonnetjie begin deesdae al vinniger sak, maar daar is nog steeds 'n tydjie oor om na werk 'n paar putjies te kom speel.
Die wenners van die sakemanne se geborgde dag is van links, K Nel, W Lessing, A van Wyk, D Bouwer, C Pinto, E Malherbe en H Kriek.
'Ons bring jou die nuutste Mosselbaai, Tuinroete nuus'