GOLFNUUS - Vir Alwyn Vorster van Stilbaai was 2022 'n droomjaar op die gholfbaan. Na verskeie goeie vertonings gedurende die seisoen het hy met sy twee laaste Sages-kompetisies nie net die Hennie Huysertrofee saam met Branko Celica, ook van Stilbaai, gelig as nie-amptelike dubbelspel-kampioene nie, maar het hy ook verlede Dinsdag, 6 Desember op Riversdal die Bertus Louwtrofee ontvang as die enkelspel-kampioen van die Suid-Kaap Sages. Baie geluk, Alwyn.
Dis voorwaar 'n prestasie om op trots te wees en wat nie veel spelers jou sou kon nadoen nie nie.
'n Totaal van 47 Suid-Kaap Sages-spelers het op Dinsdag, 6 Desember in ideale weersomstandighede op Riversdal afgeslaan. Die Suid-Kaap is droog en 'n mens kan dit oral aan die plantegroei van die omgewing sien. Riversdal se gholfbaan kry swaar, maar Jannie Goosen, die baanopsigter het hard
gespook om die baan in 'n goeie speelbare toestand te kry en veral die setperke is pragtig. Soos altyd is die spelers ook baie gasvry ontvang deur die Riversdal gholfklub. Baie dankie.
Die spelers het in 'n IPS-kompetisie meegeding en die volgende spelers het die beste gevaar: 1. Alwyn Vorster (Stilbaai) 39; 2. Wilhelm Steenkamp
(Stilbaai) 39; 3.Gary Ristow (Stilbaai); 4. Martin Speelman (Mosselbaai) 37; 5. Eleonor Speelman 37; 6. Pieter Vaughan (Mosselbaai) 36; 7. Grové Koch (Riversdal) 36 en 8. Pieter Potgieter (Stilbaai) 35.
Die naaste aan die penne, soos dwarsdeur die seisoen geborg met worspryse van JC Slagters, is gewen deur Piet Cronjé van Stilbaai op nommer 8 en Johan Swart van Stilbaai op 4/13. Willie Albertyn van Stilbaai het die enigste spogtwee van die dag aangeteken.
Die algemene jaarvergadering van die Suid-Kaap Sages is ook op Riversdal gehou. Die voorsitter het in sy verslag genoem dat die Sagesgroep van krag tot krag groei en dat die 2022-seisoen, na al die Covidbeperkings van die verlede, sonder haakplekke verloop het. Die ampsdraers wat weer in hul poste herkies is, is Nic Marais (voorsitter), Grové Koch (visevoorsitter), Kwartus Sieberhagen (sekretaris) en Fred Bull (tesourier).
Die 2023-seisoen skop af met 'n 4BBB-kompetisie op 23 Januarie op Mosselbaai. Ek wens graag al ons lesers 'n baie geseënde Kersfees toe en mag die 2023-jaar voorspoedig wees vir almal.
Wenners op Riversdal: Wilhelm Steenkamp, Alwyn Vorster, Grové Koch (voorsitter), Martin Speelman en Gary Ristow.
'Ons bring jou die nuutste Mosselbaai, Tuinroete nuus'