Die merkwaardige van bogenoemde groep is dat van hulle nog 18 putjies loop en nie van 'n gholfkarretjie gebruik maak nie.
Die oudste van die groep is Anne Frey, wat 91 jaar oud is en nog steeds gholf speel.
Vrydagoggend het die Raad van Mosselbaai Gholfklub dit goed gedink om hierdie jonges van gees met 'n heerlike ontbyt te bederf. Almal kon dit egter nie bywoon nie, want ander verpligtinge het geroep, waaronder een van hulle, Annette Meyer, 'n musiekles moes bywoon. Merkwaardig voorwaar!
Sakemanne Dag
Die Sakemanne Dag het op Woensdag, 26 Februarie plaasgevind. Die baan was in 'n puik toestand en 192 spelers het mekaar die stryd aangesê.
In die A-afdeling (voorgee 0-18) het Wiekus Pretorius (voorgee 4) en sy oorsese vriend, Jorgen Malmsten (voorgee 1), skitter-gholf gespeel en die beterbal kompetisie op 45 punte gewen.
Kort op hulle hakke was Johannes Roux en die belowende Hanro Booysen op 44 punte.
Die B-afdeling (voorgee 19-36) is deur die gedugte pa en seun kombinasie, Johan en Danie van Langelaar op 46 punte gewen. Callie du Toit en Werner Botha se 46 punte was genoeg om tweede te eindig.
Rachel Mulder en haar spookmaat het op 44 punte die C-afdeling gewen. Na die uittel op 41 punte het Ashwell Cameron en Vernon Julies die beste daaraan toe gewees en tweede geëindig.
Slagter Freddie Tolman en David Wandrag het behoorlik maalvleis van hulle teenstanders gemaak deur op 47 punte koning te kraai.
Johan en Danie van Langelaar het weer eens hulle stemme dik gemaak deur op 45 punte die tweede plek in te oes.
Bittereinders Paul de Korte en Koos Snyman het ook 45 punte bymekaar gemaak, maar die uittel het hulle gekortwiek en die derde plek is aan hulle toegeken.
Senior Klubkampioenskappe
Graag wil ons die senior spelers, 50 jaar en ouer, daaraan herinner dat die Senior Klubkampioenskappe op Saterdag, 15 Maart plaasvind. Die kampioenskappe word gedurende die oggendveld afgehandel en ons wil soveel as moontlik van ons senior spelers sien deelneem.
Ons mis nog baie van ons lede by Vrydag-aande se gelukkige trekkings. Kom maak gerus 'n draai en verseker dat u naweek op 'n hoë noot begin!
Mosselbaai Gholfklub is bevoorreg om 18 tagtigjariges in hulle midde te hê, waarvan 16 nog aktiewe lede is. Van links, agter: N Hudson (president), G Sadowski (81), W Nel (80), N Mostert (83), H Schwab (84), L Strydom (bestuurder) en D Moss (80). Voor: K Loubser (84), D Malan (83), E Edwards (85) en A Meyer (87).
'Ons bring jou die nuutste George, Tuinroete nuus'