TUINROETE GOLF NUUS - As 13-jarige seun het sy pa hom leer gholf speel. Dié sport het deur die loop van sy lewe 'n groot rol gespeel.
En op Vrydag, 19 Junie by die Pinnacle Point-gholfbaan, slaan hy sowaar die negende fortuinhou van sy loopbaan.
Bertus Smit (67), se wedervaringe en prestasies van die afgelope 54 jaar skets 'n man wat lief is vir sy sport. Op sy ouderdom geniet hy steeds 'n potjie gholf saam met goeie vriende. Smit, Cecil Gericke, Gielie Gagiano en Eugene van Wyk was verlede Vrydag by die 17de putjie toe sy negende gelukskoot hom te beurt val. Met 'n vyf yster en 'n noordewind wat gewaai het, was Bertus in ekstase om hierdie prestasie op sy telkaart in te vul.
"Dit was 'n goedkoop ronde, want die klubhuis is mos toe. So ek hoef toe nie 'n ronde vir die manne te gekoop het nie," het Smit aan die Mossel Bay Advertiser gesê.
In sy loopbaan as professionele en amateurspeler sê hy, het hy vyf van die nege balle sien ingaan. Die ander vier het hy nie eens van geweet tot hy by die setperk gekom het nie. Sy eerste fortuinhou was in 1975/76 op die sesde putjie van Morreesburg se gholfbaan. Daarna het 'n paar in Amerika gevolg, maar op sy ouderdom meen hy, kan hy nie eens almal meer onthou nie.
In 2000 -2001 verteenwoordig Smit Suid-Afrika teen VSA in 'n gholftoernooi by die Leopard Rock-gholfbaan in Zimbabwe. In 2002 op 48-jarige ouderdom verhuis hy na die VSA om aan die Sunbelt Senior Professional Golf Tour deel te neem waar hy vir twee jaar merietetoekennings verwerf. Hy het ook 12 keer aan die US Champions Tour deelgeneem. In 2005 speel hy in die European Tour Qualifying School in Portugal, waarin 700 spelers meeding en net ses uitspeel. Smit het tot 2013 in Portugal gespeel. In 2009 wen hy die Walliese Ope.
Hy kry egter in 2015 sy amateurstatus terug en het die afgelope vyf jaar die Suid-Kaap in gholf verteenwoordig. As amateur wen hy nét meer as 120 toernooie in die ope afdeling. Bertus was onderskeidelik ses en agt jaar die WP en Boland-kaptein. Gedurende sy loopbaan het hy 35 jaar lank provinsiale gholf gespeel. Voor Covid-19 'n stokkie voor sportmanne en -vroue se geliefde buitelugsport gesteek het, het Bertus vanjaar in die eerste drie toernooie vir seniors, topposisies behaal. Dit sluit in 'n derde plek op Kingswood en eerste plekke op beide Oudtshoorn en Stilbaai.
'Ons bring jou die nuutste Tuinroete nuus'