GROOT BRAKRIVIER SOKKERNUUS - Groot-Brakrivier spog binnekort met nuwe sokkervelde.
Vir jare het sokker as sport in die Groot-Brakriviergebied nie juis prominensie geniet nie. Dit is onder meer omdat die speelveld weens vloede en natuurlike omstandighede, onbruikbaar was.
Sokker het wel 'n baie sterk aanhang in die area. Dit blyk duidelik uit die jaarlikse wedywering tydens die World Cup Soccer.
Plaaslike spanne vernoem hulleself na wêreldspanne en die geleentheid trek gewoonlik rondom Nuwejaar heelwat ondersteuners en belangstelling.
Sokker-oefeninge het lank op enige oop area plaasgevind. Wedstryde is selfs op die rugbyveld beslis wanneer die geleentheid hom voorgedoen het.
'n Lang pad
In 2017 het die munisipale raad beoog om die ou sokkerveld weer te laat herleef. Kostes moes egter eers oorweeg word, so ook die effek van die natuurelemente.
Planne is egter steeds beraam en in 2018 is die eerste van 'n paar finansieringsaansoeke geloods. Uhambiso Consult is genader en het 'n tegniese verslag vir hierdie doel voorgelê, waarna die eerste aansoeke ter waarde van +/- R18 miljoen ingedien is.
In 2019 is hierdie aansoekproses herhaal en met sukses begroet vanaf Sport en Rekreasie Suid Afrika (SRSA) se Direct MIG funding ter waarde van R9 miljoen.
In Februarie 2020 is egter bevind dat die projekfondse na die Swellendam-munisipaliteit geallokeer was, waarna dit eers reggestel moes word.
In Maart 2020 kon die konsultant, Uhambiso Consult begin met gedetailleerde beplanning. Samesprekings met die departement kultuursake en sport het kort daarna plaasgevind.
Teen einde Julie 2020 kon die eerste vergadering met belanghebbendes plaasvind, wat onder meer die twee skole in die omgewing, die aangrensende rugbyklub, die twee sokkerklubs in die omgewing, die Mosselbaai Sportraad, die wyksraadslid en departement kultuursake en sport (DCAS) se verteenwoordigers betrek het.
SRSA en MIG het ook hul opinies hier gelug. Die MIG het na gelang hiervan die munisipaliteit ingelig dat die projek op 'n 82.3% tot 17.7% verdeling geëvalueer is en dat die Mosselbaai-munisipaliteit 'n addisionele R1 935 601.46 vir die projek sou moes bydra. Die raad het hulle daartoe verbind.
Proaktief
Teen September 2020 was daar steeds geen finale goedkeuring vanaf DCAS, MIG en SRSA nie.
Daarom het die raad besluit om proaktief die konsultant wat alle werk op pro-rata basis gedoen het, amptelik aan te stel sodat met spesifikasie en tenderdokumente voortgegaan kon word.
Finale goedkeuring vanaf DCAS, MIG en SRSA is eers in November 2020 ontvang en gevolglik is die tender kort daarna geadverteer.
Die tenderproses is tans voltooi.Henra is aangestel en sal eersdaags op terrein wees. Wyksraadslid Cliffie Bayman het daarop gewys dat spesifieke voorskrifte uitgereik is om te verseker dat leerders wat oor die terrein loop, veilig by die skool sal kan kom.
Daar sal voorsiening gemaak word dat die leerders by 'n hek veilige toegang na die skoolgronde sal kry.
'Ons bring jou die nuutste Groot Brakrivier, Tuinroete nuus'