TUINROETE | HESSEQUA KRIEKETNUUS - Heidelberg United-krieketklub het Saterdagmiddag, 12 Desember hul langverwagte jaarlikse erkennings- en seisoeneinde afskeid by 'n woning in Joe Slovo Park gehou.
Dié jaar was dit baie informeel en net tot lede/spelers beperk. Die enigste nie-lede was Samuel en Denise Hendricks, wat die vier trofees geskenk het. Die Covid-19-regulasies is stiptelik bygehou.
Die verrigtinge is deur Gershom van Rooyen met gebed geopen. Heinrich Hartnick (sekretaris) het as seremoniemeester opgetree.
Clive Pretorius (voorsitter) het sy voorsittersverslag aan die sowat 20 aanwesiges voorgehou. Michael Williams, nuutverkose kassier en spanbestuurder het 'n kort oorsig oor die afgelope seisoen gedoen en ook die verskeie wenners aangekondig.
Die Hendricks-egpaar is bedank vir hul bydrae tot die opbou van die klub.
Hendricks het die bestuur bedank dat hulle hom genader het, omdat hy 'n passie het om 'n bydrae te lewer tot die ontwikkeling van die gemeenskap, maar veral dié van die jeug. Hy het ook die spelers aangemoedig om hul beste vir die sport te gee om sodoende hul volle potensiaal te bereik.
Spelers is vanjaar slegs in vier kategorieë beloon. Berthal September is as speler van die jaar aangewys en is hy met die Clive Pretorius-wisseltrofee beloon.
Jaques Thyse is as beste kolwer aangewys en het hy die Eastriyond Esau-wisseltrofee ontvang. Die Ockert Verwey-wisseltrofee is aan Jacquen Meyer oorhandig vir beste bouler en Shirgené Swartbooi is as die mees toegewyde speler aangewys, waarvoor hy die Samuel en Denise-wisseltrofee ontvang het.
Garth Pieterse is as die T20-speler aangewys.
Hartnick het die aanwesiges bedank vir hul bywoning gedurende die moeilike tye en die hoop uitgespreek dat almal by die regulasies sal hou om die virus so gou moontlik die nek in te slaan.
'Ons bring jou die nuutste Tuinroete, Hessequa nuus'