TUINROETE NUUS - Die Six Gun Grill SWD-vrouespan het die afgelope naweek by die Oudtshoorn-sportterrein hul veldtog vir die nuwe seisoen perfek begin toe hulle Grens met die kous oor die kop huis toe gestuur het in beide die T20- en eendagformaat-wedstryde.
In die eendagwedstryd Saterdag het Grens eerste gekolf waarna die tuisspan danksy 'n gesamentlike puik boulvertoning deur Micaela Andrews (4/19), Jane Winster (3/9) en Julandi Saayman (3/28) die besoekers tot 'n redelike maklik teiken van 101 lopies beperk het.
In SWD se kolfbeurt was dit weereens Andrews wie se kolf die hardste gepraat het met 'n onoorwonne 37 lopies van slegs 39 balle. Haar sprankelende pragbeurt, wat twee sesse en drie viere ingesluit het, was grotendeels verantwoordelik dat SWD die wenteiken reeds in die 26ste boulbeurt kon bereik.
SWD het dus met agt paaltjies gewen.
In Sondag se T20-wedstryd het SWD eerste gekolf en 135 lopies vir die verlies van vyf paaltjies aangeteken. Andrews was weereens verwoestend met die kolf en het dié keer 67 gemoker van slegs 50 balle. Haar beurt het 'n sierlike ses en agt viere ingesluit.
Andrews het ook met die bal uitgeblink en drie paaltjies vir slegs 21 lopies in haar toegelate vier boulbeurte behaal om Grens uiteindelik vir 88 lopies uit te haal wat 'n oorwinning van 47 lopies aan SWD besorg het.
Sy is goed ondersteun deur die kaptein Haroline Rhodes se boulsyfers van twee paaltjies vir 12 lopies.
Micaela Andrews was verwoestend met kolf en bal.
Die telkaarte is as volg:
Eendagwedstryd
GRENS 101 almal uit (39.2 beurte) (Genevieve Fritz 47, Micaela Andrews 4/19, Jane Winster 3/9, Julandi Saayman 3/28)
SWD 102/2 (25.4 overs) (Micaela Andrews 37*, San-Mari Strydom 18, Bianca Figeland 15*)
SWD wen met agt paaltjies.
T20-wedstryd:
SWD 135/5 (20) (Micaela Andrews 67, Bianca Figeland 19)
BORDER 88 almal uit (Cinga Mhlubulwana 27, Asakhe Nyovane 20, Micaela Andrews 3/21, Haroline Rhodes 2/12)
SWD wen met 47 lopies.
Jane Winster het drie paaltjies vir nege lopies platgetrek.
'Ons bring jou die nuutste Tuinroete, Hessequa, Karoo nuus'