MOSSELBAAI NUUS - Die 2019 Mosselbaai Sport- en Rekreasiefees vind vanjaar tussen 14 September en 12 Oktober plaas. Die geleentheid bied verskeie unieke byeenkomste wat deelnemers van formaat en toeskouers na die dorp sal lok.
Benewens die jaarlikse KFC Point o/19-krieketbyeenkoms wat gereeld die skares met hul uithalerspel lok, is een van die groot hoogtepunte vanjaar die IBFF Southern Cape Spring Classic Bodybuilding byeenkoms wat op 5 Oktober in die Diaz Strand Hotel sal plaasvind.
Deelnemers wat besondere moeite met hul liggaamsbou doen sal hul met hul toewyding en harde werk kan meeding teen kompeteerders van formaat.
Die Rural Mayoral Cup vorm weer eens die ruggraat van sportbevordering vir landelike gemeenskappe en vanjaar sal na verwagting voortgebou word op die prestasies wat die aanvangspanne verlede jaar behaal het.
Nie net is die onderskeie spanne se vaardigheid in rugby en netbal ter sprake nie, maar die dorpe wat verteenwoordig word sal net die beste van die deelnemers verwag.
Vanjaar is die Fifth Edition Mossel Bay Classic Surfing Competition 'n verdere hoogtepunt om te aanskou tydens die naweek van 12 en 13 Oktober. Toeskouers kan vroeg reeds by die gewilde branders van die Punt regstaan om te sien hoe die branderplankryers sake uitspook.
Inskrwyings word ook ingewag vir die Touchies wat op27 September vanaf 18:00 by die D'Almeida-stadion plaasvind.
Die sluitingsdatum is 18 September en inskrywingsvorms is beskikbaar by me R Jacobs by die munisipale-kantore in Marshstraat (044 606 5000 of rjacobs@mosselbay.gov.za). Groot pryse is op die spel.
'Ons bring jou die nuutste Mosselbaai, Tuinroete nuus'