TUINROETE KRIEKET NUUS - Tydens die SWD Krieket se prysuitdelingsfunksie wat vanjaar virtueel aangebied is, is Berthal September (19), talentvolle speler van Heidelberg United-krieketklub as die Promosieliga se kolwer van die seisoen aangewys.
September was baie bestendig met die kolf die afgelope 2019/20-seisoen en het 299 lopies met 'n gemiddeld van 50.44 opgestapel.
Dié veelsydige sportman wat ook in rugby uitblink, het 'n honderdtal (118 lopies, wat 17 viere en een ses insluit) van 124 balle aangeteken, asook 'n vyftigtal (81 lopies, wat 10 viere en een ses insluit) vanaf 115 balle aangeteken. Hy is die eerste speler in dié klub se bestaan wat met dié gesogte prys wegstap.
Andrew Pieters, een van die klub se stigterspelers en veteraankolwer het ongeveer vyf jaar gelede net-net dié titel gemis.
'Ons bring jou die nuutste Tuinroete nuus'